Polisie op soek na ‘skoolseun’ (28-30) wat meisies in skoolbadkamers verkrag
Die Sedibeng-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe is op soek na ‘n verdagte (moontlik tussen 28 en 30) wat homself soos 'n skoolseun vermom en meisies in skoolbadkamers verkrag.
VANDERBIJLPARK. – Die ondersoek volg na die verkragting van ’n 15-jarige meisie by ‘n skool in Vanderbijlpark.
Dit is glo die tweede soortgelyke voorval.
Volgens sers. Gertrude Makhale, ’n woordvoerder vir die polisie in Vanderbijlpark, het die voorval op Vrydag 29 Julie 2022 omstreeks 10:45 gebeur.
Die 15-jarige slagoffer is glo in die seunsbadkamer in om haarself te verlig toe die verdagte haar gestamp het dat sy val en haar toe gedreig en verkrag het.
“Die slagoffer het aanvanklik vir hulp probeer skree maar na ‘n ruk besef dat niemand in die nabye omgewing daar is om haar by te staan nie,” sê Makhale.
Volgens die slagoffer het die verdagte ‘n skoolbaadjie aan gehad maar te oud gelyk (moontlik tussen 28 en 30) om ‘n leerling by die skool te wees.
Terwyl hy haar verkrag het, het sy gemerk dat die slagoffer onder die baadjie ook die skoolbaadjie van ‘n ander skool in Vanderbijlpark gedra het.
Volgens ’n beskrywing wat deur die polisie verskaf is het die man “dreadlocks” en ‘n litteken onder sy een oog.
Die man is swart maar is betreklik lig van gelaat.
Hy praat glo Sotho.
Die polisie glo dat die verdagte moontlik gereeld meisies in badkamers van skole in die gebied teiken.
Dit is glo die tweede soortgelyke voorval wat aan die polisie gerapporteer word.
Mense wat inligting oor die verdagte het word gevra om met konst. Masemola in verbinding te tree by (016) 450 2624 of 071 675 6272.
