Leeuhof-vrou glo rioolvuil lei tot ma (79) se dood
'n Vrou van Leeuhof, wie se erf feitlik permanent vol rioolvuil is wat uit n verstopte drein borrel, blameer die rioolvuil vir haar ma se dood.
VEREENIGING. – Meeste inwoners van Vereeniging is deeglik bewus van diensleweringsprobleme in die gebied, maar toe Quéléne Oosthuizen sewe maande gelede van ‘n plaas tussen Potchefstroom en Fochville na Leeuhof getrek het, het sy nie geweet dat riool gereeld in haar erf gaan oorborrel nie.
Quéléne sê sy het kort nadat sy saam met haar ma en seun in die huis ingetrek het bewus geraak van die dreine wat gereeld verstop raak en rioolvuil wat in haar erf oorborrel.
Quéléne sê sy het verskeie kere die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gevra om met die probleem te help maar niks word aan die probleem gedoen nie.
Quéléne se ma, Maria Susanna Ayres (79) is in September oorlede nadat sy volgens Quéléne “’n kiem opgetel het”.
“Sy het ‘n verskriklike maagwerking opgetel en later hartversaking ontwikkel. Epileptiese aanvalle het gevolg. Sy was skaars ‘n dag by die huis, toe kry sy weer ‘n virus in die maag en haar urine. Ek het haar hospitaal toe geneem maar sy het nie weer teruggekom nie,” vertel Quéléne.
Vaalweekblad het gevra vir Maria se doodsertifikaat en volgens die sertifikaat was haar dood weens “natuurlike oorsake”.

Vaalweekblad het ook navrae aan Makhosonke Sangweni, die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se waarnemende bestuurder vir kommunikasie en bemarking gestuur.
Ons het nog nie terugvoer ontvang nie, maar sal dit publiseer sodra ons terugvoer ontvang.
Prudence Hlanyane, wyksraadslid vir Wyk 15 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het bevestig dat die probleem reeds verkskeie kere aangemeld is maar dat klagtes tot dusver op dowe ore geval het.
Metsi-A-Lekoa het vroeër vanjaar 17 nuwe vlootvoertuie ontvang en daar is beloof om kwessies rondom dienslewering uit te stryk. Tans lyk die situasie selfs erger as wat dit was. Wanneer Metsi-A-Lekoa gevra word om te help trek hulle skouers op en sê dat dit Rand Water se verantwoordelikheid is,” sê Hlanyane.
