Polisieman breek rugwerwel toe hy ratse dief agtervolg
Die Polisie het dié klouterdief "Die kat met 9 lewens" genoem omdat hy elke keer kon wegkom sonder om gevang of raakgeskiet te word.
Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar weer terug na interessante gebeure uit die stad se verlede:
Sakelui van Vereeniging se middestad het gedurende 1973 groot verliese gely weens ‘n fikse, atletiese dief wat soos ‘n vetgesmeerde blits teen mure en geute kon uitklim om by geboue in te breek. Dit was veral Krugerlaan se besighede wat onder die geslepe rakker se aanslae deurgeloop het.
Polisiemanne het later met hul hande in die hare gesit want die kalant kon elke keer daarin slaag om hulle te ontglip.
Sers. Ferdinand van Vuuren, destyds ‘n bekende en fikse rugbyspeler van Vereeniging, het besluit hy gaan nie rus voordat hy die kalant vasgetrek het nie. ‘n Konstabel moes snags stilweg ‘n wakende ogie oor die sakepersele hou en as hy die klouterdief sien, moes hy sers. van Vuuren dadelik kontak.
So gebeur dit dat sers. Van Vuuren net voor dagbreek op Vrydag, 3 Augustus 1973, ‘n boodskap kry dat die dief weer doenig is in Krugerlaan. Sers. Van Vuuren is dadelik daarheen en het die kalant op ‘n gebou se dak aangetref waar hy besig was om by ‘n hoë venster in te klim.
Toe die skelm vir sers. Van Vuuren sien, het hy blitsig al met ‘n dak langs gehardloop om weg te kom. Die frisgeboude sers. Van Vuuren het hom met pistool in die hand agternagesit.
Toe die skelm later op ‘n afdak afspring, het sers. Van Vuuren dieselfde gedoen. In die donker het hy nie gesien dat van die dakplate van plastiek of veselglas was nie. Die arme polisieman het dwarsdeur die dak geval, rakelings verby ‘n rak getrek en op die harde sementvloer beland.
Met die valslag het hy ‘n rugwerwel gebreek en ‘n slegte kopbesering opgedoen. Hy is in die hospitaal opgeneem, waar hy ‘n hele paar weke plat op sy rug moes lê en tydelik heeltemal van sy rugbyspelery moes vergeet.
Sers. Van Vuuren het blykbaar mooi herstel en kon later sy polisiewerk hervat. Of die “Spiderman”-dief ooit gevang is, is onbekend, maar die inbrake in die middestad het gelukkig mettertyd afgeneem.

********************************************************************
