Local newsNewsNews

Van straatkat tot huisprins

Hier is nou een kat wie se tweede lewe sy beste lewe is. Ontmoet Covie Vlotman...

VANDERBIJLPARK. – Covid of dan Covie, soos sy mensma hom noem, is ‘n baie spesiale kat. Hy het in die pandemie tyd as ‘n wilde kat by Joe en Suzette Vlotman opgedaag.

Eers net vir etenstye. Mev. Vlotman sê haar bure het later op hul kringtelevisieskerms hom sien aankom en haar laat weet: “Kry die kos reg, Covid is op pad.” As sy dan die agterdeur oopmaak, was hy daar, reg vir ete.

Jo Panoias hou vir Covie vas terwyl hy sy been oefen. Mev. Suzette Vlotman, kyk toe.

Met die tyd het hy mak geword en sy intrek in die Vlotman-huishouding geneem, waar hy soos ‘n koning behandel word. Hy loop nie rond nie en verkies om sy dae in die huis deur te bring.

Sowat ses weke gelede het ‘n ander kat egter die erf betree. ‘n Bakleierige een en die normaalweg rustige Covie was gedwing om sy erf en mense te verdedig.

Presies wie die geveg gewen het, kan niemand sê nie.

Die ander kat is nog nie weer gesien nie, maar Covie se linkervoorpoot en skouer is beseer. Hy kon glad nie op die poot trap nie en dit was erg geswel. Hy is onder sedasie ondersoek en daar is gevind dat niks gebreek is nie.

Die kat se ligamente en spiere is wel beseer. Die Vlotmans het besef die kat het hulp nodig.

“Ons het oorweeg om hom Johannesburg toe te vat vir fisioterapie. Gelukkig het ons ontdek dat die Vaaldriehoek Dierekliniek ‘n fisioterapeut het en selfs ‘n hydroterapiesentrum,” vertel Mev. Vlotman.

Na sy eerste behandeling het Covie al begin om gewig op die poot te sit en as hulle nie gekeer het nie, sommer ook weer te begin spring.

Met sy tweede besoek aan die fisio, Jo Panoias, was Vaalweekblad ook by. Sy het dadelik die goeie nuus gegee dat die swelling byna weg is. Met ‘n bietjie masseerolie is Covie se seer spiere goed gevryf.

Covie geniet sy fisioterapiesessie

Sy het ook sy poot stadig opgelig en in die lug laat trap voor sy dit weer neergesit het. Vir ‘n kat wat drie jaar gelede nog haweloos was, het hy baie rustig gestaan en al die aandag toegelaat.

Sy het hom selfs laat trappe klim tot by die rand van die swembad en terug. Dit was duidelik dat hy verlig was om nie ‘n waterterapiesessie te hê nie. Dié kom blykbaar later, maar hy weet dit nog nie!

Met Covid op haar skoot het Jo dat hy rustig in die lug “fietsry”. Mnr. Kat het amper aan die slaap geraak van die lekker.

Jo sê Covid vorder so goed omdat mev. Vlotman hom ook by die huis die nodige terapie gee.

Covie gee nie om wie vir hom die terapie gee nie, solank hy baie aandag kry, is hy so gelukkig soos net ‘n kat in beheer van sy eie koninkrykie kan wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button