Local newsNewsNews

As ‘n wolf jou pad kruis… dan leer jy baie

Tussen Belinda Bras-Nel en haar wolwe is daar 'n besonderse band. Die jongstes van die trop hou haar op die stadium amper voltyds besig.

VANDERBIJLPARK. – Belinda Bras-Nel, die Vaal se eie diere-fluisteraar, is weer voltyds op babadiens nadat sy nog twee wolfies ontvang het.

Belinda het die eerste keer met wolwe kennis gemaak toe haar pad met ‘n babawolf genaamd Odin, gekruis het.

Jong Odin met sy gunsteling teddie. Dit het eens op ‘n tyd aan Akita behoort en later aan Fen.

“Daardie jare het ek min van wolwe geweet. Ek het gedink ek kan Odin hondeskool toe vat en met hom gaan stap. Odin wou niks weet nie, hy wou net altyd terug huis toe,” onthou sy.

Sy het begin navorsing doen en gou besef ‘n wolf en ‘n hond verskil hemelsbreed. Odin het haar bondgenoot en sielsgenoot geword. Vir jare het hulle ‘n besonderse band gedeel.

Selfs toe die ander wolwe, Akita, Akaï en Fen, ook hul weg na haar gevind het, was die band tussen Belinda en Odin altyd die sterkste.

‘n Paar maande gelede is Odin oorlede. Alhoewel Belinda geweet het dit was sy tyd om te gaan, het sy steeds oor hom getreur. Onlangs het sy gehoor dat ‘n wolfie gebore is en sy het dadelik geweet dis Odin.

Olga besig om te doen wat Olga soms doen. Die juffie vat die lewe met al vier pote aan!

Maar, toe sy die foto’s besigtig het die naam Olga by haar opgekom. Sy het haar nie daaraan gesteur nie en die kilometers afgelê om vir Odin junior te gaan haal.

Daar aangekom, het ‘n jong wolfie haar aandag getrek. Sy het geweet dis Olga en dat sy haar ook moet huis toe neem.

Die twee jongelinge hou haar goed besig. Die ander wolwe beskou hulle ook as deel van die trop. Akaï steur hom nie aan die kleintjies nie, maar hulle is lief om hom te gaan pla!

Akita is baie besorg oor die wolfies. Olga lyk soos Akita se “mini me” en daar is duidelik ‘n besonderse band tussen hulle. Fen wat vir jare die baba was, het die rol van ouboet sonder skroom aanvaar.

Ouboet Fen kyk toe terwyl Akita met Olga en Odin speel

Alhoewel die wolfies oulik is en baie aandag trek op haar Facebookblad, waarsku Belinda dat nie enige een ‘n wolf kan aanhou nie.

“Hulle het baie spasie nodig en is gebiedsgebonde. Jy moet hulle met respek hanteer en hulle moet jou as die leier aanvaar.

“Wolwe is ook baie groter en sterker as honde en kan nie sommer net in ‘n motor gelaai word om veearts toe te gaan as daar fout is nie. Hulle bly wilde diere.

“Ek sê altyd vir mense ‘n wolf kom op jou pad, jy kan nie een gaan soek nie. Ek het ‘n sielkonneksie met hulle en glo dat my pad met die wolwe gekruis het sodat hulle my meer van die natuur kan leer en ons konneksie met die natuur.”

Terwyl Olga en Odin hul nuwe omgewing verken en gereeld in die grond grawe, hou Fen van ver af ‘n ogie. Die tweetjies slaap nog baie, maar speel al hoe meer buite.

Hulle geniet dit om Akaï te pla totdat hy uit sy gat opstaan, dan duik hulle met ‘n boog in die koel grond totdat hul goed vuil is.

In die aande hou hulle daarvan om vir ‘n rukkie styf teen Akita te gaan opkrul. Een van die dae sal hul saam met die ander daardie tipiese wolwe-huil laat opklink as dit tyd is vir aandete.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button