Inwoners raadop oor gebarste pype en swak toestand van pad
Inwoners van Homer kla oor die swak toestand van Anton Stegmanstraat, 'n pad wat daagliks deur voetgangers, skoolkinders en voertuie gebruik word.
VEREENIGING. – Twee gebarste pype in die omgewing veroorsaak glo dat liters drinkwater daagliks verlore gaan.
Volgens ‘n inwoner van die gebied vloei die water alewig in die pad.
Dit het die padoppervlak tot so ‘n mate beskadig dat voetgangers en karre amper nie meer die pad kan gebruik nie.
Die inwoner sê daar word sedert 2016 gereeld oor dieselfde probleem gekla.
Hy sê die probleem is reeds verskeie kere by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, maar kla dat niks omtrent die probleem gedoen word nie.
“Miljoene liter water gaan daagliks verlore terwyl Rand Water onlangs waterbeperkings ingestel het. Hulle kan gerus die moeite doen om die pype reg te maak en ophou om inwoners vir die situasie te blameer. Miskien kan die waterbeperkings dan afgeskaf word,” meen die bron.
Vaalweekblad het Woensdag (12 Oktober 2022) navrae oor die probleem aan Makhosonke Sangweni, die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se waarnemende bestuurder vir kommunikasie en bemarking, gestuur.
Ons het teen Donderdag (13 Oktober 2022) nog nie terugvoer ontvang nie, maar sal dit publiseer sodra ons ons enige terugvoer ontvang.
Rdl. S.J. Sefatsa, raadslid vir Wyk 11 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag gesê hy is as wyksraadslid deeglik bewus van die probleem en het dit reeds verskeie kere by Mets-A-Lekoa aangemeld.
Hy het glo ook die betrokke burgemeesterskomiteelid van die probleem verwittig.
“Ek staan op die oomblik hier by Metsi-A-Lekoa (se kantoor in Vanderbijlpark om die probleem uit te sorteer),” het Sefatsa Donderdagoggend omstreekl 10:22 laat weet en ons toe ‘n “location pin” van sy ligging gestuur.


