Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Daar is plekke in Vanderijlpark wat net jarelange inwoners van sal weet, alhoewel elkeen oop en bloot daar staan. Ons gebruik net nie altyd die nuwe benamings nie!

RUBRIEK. – Vanderbijlpark is maar Vanderbijlpark. Ek vermoed ons is anders as ander dorpe. Was nog altyd en sal altyd wees.

Nuwe intrekkers word net deel van die groter geheel. Niemand word as “inkommers” beskou nie. Ons kan vreeslik onder mekaar stry en baklei, maar as daar moeilikheid is, kan ons nogal saamstaan. Wel, soms, nie altyd nie, hang seker af van hoe ons voel.

Al wat nuwe intrekkers moontlik kan laat kopkrap is hoe mense wat hier grootgeword het, soms na plekke verwys. Die ouer garde sal weet waarvan ek praat.

Kyk, jare terug het niemand van die R42 gepraat nie, dit was die Paryspad. Waar die R57 en die R42 kruis is die verkeerslig jare gelede as die kruising van die dood gebrandmerk. Nou se dae word dit blykbaar die kruising van die lewe genoem, maar die ongelukke duur voort.

Hoërskool Vanderbijlpark was bekend as Ou Hoër en menige inwoner sal steeds praat van die ou en nuwe swembad.

Vir die wat nie weet nie. Vanderbijlpark se eerste openbare swembad was (is dalk nog, ek het geen idee nie) daar naby Ou Hoër.

In die 80s het die nuwe swembad naby Hoërskool Driehoek oopgemaak. Vandaar die benamings, al is die nuwe swembad ook nou al lank in die tand.

Soms hoor jy ook nog mense praat van die wildtuintjie langs die rivier. Waar die Emerald Resort & Casino vandag is, kon ons desjare terug agter ‘n klein wildtuintjie die rivier besoek vir sommer net luilekker visvangdae. Dit was gratis.

Porratown was daar in die omgewing van die veearts, ou OK en waar die Wording standbeeld eens gestaan het. Wat het van die ou beeld geword? Ons het op skool nog van hom geleer.

Hoe dit ook al sy, in die 80s het daar baie Portugese in daardie gebied gebly en ai, hulle kon die lekkerste kos maak!

Dan hoor ek steeds die ouer inwoners vergeet soms dat Vaalmed nie meer bestaan nie. Dit was mos jare terug die mediese fonds geboue van al die Yskor- en Vikoriane. Vandag is dit Mediclinic Emfuleni.

So van Yskor gepraat. Ek hoor gereeld hoe praat mense nog van Yskor, as hul eintlik ArcelorMittal bedoel. Is maar moeilik om altyd die nuwe benamings te onthou.

Dis nes die groter area maar altyd vir ons die Vaaldriehoek sal bly en vergeef ons maar as ons van die Technikon praat in plaas van VUT. ‘n Mens verleer nie so maklik ‘n ding waarmee jy grootgeword het nie.

Maar dis nie net die ouer geslag wat nuwe intrekkers kan laat kopkrap nie. Ek het al verskeie onderhoude gedoen met mense wat nog nie lank in die dorp bly nie.

Ieder en elk sê hulle het vreeslik gewonder waar is Die Gat en wat maak die plek so spesiaal? Hul lank geneem om agter te kom daar word eintlik van die Riverside Boulevard winkelsentrum gepraat.

Andries Visagie moes onlangs vir my beduie waar is ‘n plek. “Dis reg agter die Gereformeerde Spur,” het die boodskap deurgekom.

Ek het dadelik gesnap en vir dae daaroor gegiggel. Die Gereformeerde Spur inderdaad! Vir die wat nie weet nie, die sentrum met restaurante in Frikkie Meyer-boulevard is op ‘n perseel gebou waar daar eens op ‘n tyd ‘n Gereformeerde Kerk gestaan het!

Was ons die slag ver van die huis en op pad terug Vanderbijlpark toe, was een van die fabrieke daar in Meyerton se omgewing bekend as die verbrande aartappel fabriek.

Dit het regtig na verbrande aartappels geruik. Dan het Ma altyd gesê dis nou nie meer so ver huis toe nie. Sy sien al die huis.

Goeie tye. Lank tyd terug se tye. Sela

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button