Stukkende lugreëlaars, trae diens laat mens se bloed kook
"Van die verpleërs vra vir my pa geld anders weier hul om vir hom iets op te tel as hy iets laat val het."
Brief:
Elna le Hanie skryf:
Ek kla nooit regtig oor dinge nie maar ek voel net ek moet my sê sê vandag!
My pa (amper 88) het verlede Dinsdag geval en sy femur se kop afgebreek. Ons probeer bel die ambulans om hom te kom haal. Na ek twee keer gebel het, kom hulle darem.
Ons wag van 14:00 tot 22:15 Dinsdagaand dat die dokter hom by Vereeniging/Kopanong-hospitaal sien. Baie vriendelik, die dokter en verpleegpersoneel.
Om 23:20 kom die ambulans uiteindelik daar aan om hom na Sebokeng-hospitaal te vervoer. Die dokter sê hulle gaan sommer nog vannag opereer omdat hy oud is.
Die volgende oggend bel ek om te hoor hoe die operasie afgeloop het. Nee, sê hulle, hy is nog nie geopereer nie, hulle moet eers toetse doen, wat ek baie goed verstaan. Maar nou is dit al Saterdag en nog steeds is hy nie geopereer nie! Nee, sê hulle, “the theatre is too hot… loadshedding”. (Vermoedelik het die lugreëlaars weens aanhoudende beurtkrag gebreek).
Van die verpleërs vra vir my pa geld anders weier hul om vir hom iets op te tel as hy iets laat val het. Hulle sê vir my broer hulle opereer hom die volgende dag; hy mag niks eet vanaf 22:00 nie. Die volgende dag kry hy ook geen kos nie. Ons bel kort-kort. Nee, hy is nog nie geopereer nie.
Om 16:00 sê hulle hy is nog nie geopereer nie, hulle sal maar aandete vir hom gee. Hulle help hom nie eet nie, gee nie vir hom water of enigiets nie, hy word nie gewas nie, sy familie moet hom maar was. Hy kry nie ‘n pan waarvoor hy vra nie, ook nie ‘n beker om in te urineer nie. Gelukkig is daar ‘n swartman wat hom oor my pa ontferm en hom gevoer en vir hom ‘n bottel gekry het om in te urineer. Hy het ook gesorg dat my pa water kry.
As jy weet jou hospitaal se lugreëlaars in die teater is stukkend, laat jy dit so gou moontlik regmaak – as jy omgee vir jou pasiënte. Nou moet my pa daar lê tot wie weet wanneer hulle besluit om die lugreëlaars reg te maak. Daar is ‘n seun wat al twee weke wag om geopereer te word! Dis ‘n skande!
*****************************************************************
