Midvaal pas sy water op en vat waterdiewe vas!
“Al word Midvaal nie onmiddellik deur die waterbeperkings beïnvloed nie is dit ‘n waarskuwing waaraan almal gehoor moet gee.”

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Rand Water het almal in Gauteng warm onder die kraag oor waterbeperkings wat deur die provinsie ingestel is die afgelope week.
“Water-sheading” is die nuwe term, net om die bloeddruk so effens meer op te jaag. Terwyl akademici voortwoed teen globale verwarming en die Trumpiste dit ontken, verdor droë dele van die wêreld en ander word geteister onder hewige vloede. Selfs waar water nie skaars is nie is dit “skoon drinkwater” wat die probleem is. Groot was die nood in die Wes-Kaap se Kaapstad toe DAG ZERO onlangs al te naby vir gemak aan ons deur geklop het. Die opgaar van drinkbare water wat in die aanvraag kan bevredig is die probleem.
Op DSTV se Curiosity Channel bring die dokumentêre reeks The Butterfly Effect die probleem in perspektief. Hulle lê uit hoe ‘n reeks besluite van die eertydse Sowjet-Unie die Aralse see in Oesbekistan kruppel gelaat en so te sê drooggelê het. Deur swak bestuur, oorbesproeiing, kanalisering en opdamming het hulle die bietjie water wat in die see loop, so vergiftig dat dit onbruikbaar is en die hele ekosisteem op sy knieë gedwing het. Voedselkettings is versteur en die klimaat is verander, die watertafel het geval en is vergiftig, lewensare van omliggende gemeenskappe is vernietig en geheime chemiese wapenaanlegte op eilande is ontbloot na gelang die kaartehuis inmekaar getuimel het.
Al word Midvaal nie onmiddellik deur die waterbeperkings beïnvloed nie is dit ‘n waarskuwing waaraan almal gehoor moet gee. Dit gaan nie noodwendig oor die watervlak van die Vaaldam op die huidige stadium nie maar oor die kapasiteit van die owerhede om die water te suiwer, te vervoer en die reservoirs vol te hou. Met beurtkrag en ander elektrisiteitsprobleme kry die reservoirs nie tyd om op te vul nie. Die aanvraag is te veel om die water wat wel deur die sisteem gegenereer word as voldoende te ag.
In Midvaal het ons ‘n streng beginsel om water te spaar. Waterlekke kry prioriteit en daar word streng teen waterdiewe opgetree. As gevolg van die aard van die herstelwerk aan waterlekke moet die sisteem gewoonlik eers gebloei word om lug uit te haal voordat dit weer effektief kan vloei. Dit veroorsaak noodgedwonge waterverliese wat nie altyd deur opgaartenks of ander metodes herwin kan word nie. Ons doen ‘n vriendelike, dog ernstige beroep op inwoners om waterlekke so gou moontlik by die kliëntedienssentrum aan te meld en ook dadelik deur te gee aan ‘n raadslid en/of die relevante LBK (MMC), want Midvaal gee om!
Trotse Midvaal Groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

*********************************************************
