Overvaal se pioniers hou 40 jaar reünie
Die organiseerders bedank al die skoolmaats wat die geleentheid bygewoon en tot die sukses van die naweek bygedra het.

VEREENIGING. – Presies 40 jaar nadat die matriekafskeid van die Hoërskool Overvaal se heel eerste matriekklas in 1982 by die Riviera-on-Vaal gehou is, het die ou skoolmaats op Saterdag, 24 September 2022 by dieselfde spoghotel saamgetrek vir hul 40-jaar reünie.
“Die nostalgie, herinneringe en emosies het hoog geloop en ons het weer vriendskappe hernu en versterk. Ons was geseënd om tot dusver ons 10de, 20ste en 30ste reünies te vier, maar ons 40 jaar reünie was ‘n belewenis op ‘n heel ander skaal, met maats wat land-en-sand stories en verhaaltjies gedeel het,” sê Ian Coetser, een van die organiseerders. “Dit was vanjaar ook die grootste van al ons reünies met 65% van ons maats en hul wederhelftes wat dit bygewoon het.”
Hoërskool Overvaal het sy deure in 1980 met net 347 skoliere in standerd 6, 7 en 8 geopen. Daar was destyds nog geen standerd 9’s en matrieks nie.
“Alles was woes en leeg en nie ‘n enkele grashalmpie of boompie was in sig nie. Alles was bruin, vaal en stowwerig. Ons eerste skoolklok was ‘n ploegskaar wat nogal in 1980 in Vaalweekblad gepronk het. As standerd 8’s is ons onbewustelik gedwing om die posisie van seniors in te neem. Dit was die begin van ‘n hegte band wat nooit verbreek sou word nie. Vir drie jaar was ons die seniors van Hoërskool Overvaal, met ‘n baie spesiale verhouding en vriendskapsband,” sê Ian.
“Ons was die eerste met alles: Ons het die eerste gras en bome geplant waar leerders vandag nog die skadu’s van die bome geniet en waar vele atletiekbyeenkomste, rugby-, krieket-, netbal- en hokkiewedstryde plaasvind. Ons was ‘n klein matriekgroepie met net 82 klasmaats. Ons was en is nog steeds ‘n groep van formaat en die pioniers van Overvaal. Ons is ook die eerste groep waaruit die eerste hoofseun en hoofmeisie gekies is: Willem Germishuys en Karin Labuschagne (Steyn), en ook die eerste leerlingraad, die heel eerste koor, Volkspele en sportspanne.
“Agt lede van die Klas van 1982 is nie meer met ons nie en ons het ‘n bankie as huldeblyk en nagedagtenis aan hulle onthul en dit aan die skool geskenk,” sê Ian.
Die reüniegangers bedank graag hul oud-onderwysers, dr. Jopie Breedt, mev. Engela Roodt, mev. Cheryl Smuts en mnr. Dries van Heerden dat hulle die 40ste viering saam met hulle kom herdenk het. “Dit was ‘n groot eer en voorreg om hulle weer te kon sien. Ons sal die wyse woorde wat hulle met ons gedeel het, met ons saamneem,” is die Overvaal-pioniers se boodskap.
Die organiseerders bedank al die skoolmaats wat die geleentheid bygewoon en tot die sukses van die naweek bygedra het.


Die Hoërskool Overvaal se Klas van 1982 saam met ‘n paar van hul destydse onderwysers, tydens die 40-jaar reünie wat onlangs in Vereeniging gehou is.
***********************************************
