Local newsNewsNews

The ABBA Show – A Cinderella Story was fantasies!

Hierdie vertoning het van meet af die gehoor vasgevang, meegevoer en mens vir 'n paar uur van die buitewêreld laat vergeet.

SASOLBURG. – Sprakeloos verwonderd. Vasgevang in ‘n sprokieswêreld met ABBA se treffers wat steeds deur my kop maal.

Die beelde van dansers wat in vrolike kostuums spring en tol met hope energie nog vars in my geheue.

Cathy Specific as die Fairy Godmother.

Cinderella wat grasieus op die punte van haar pikante balletskoene in sweef. Die prins wat ongelooflike danspassies en spronge uitvoer.

Die Fairy Godmother wat met die eerste note van I have a dream almal se harte steel. Ja, ek is in vervoering en nie in staat om ‘n ordentlike berig vol feite te skryf nie.

The ABBA Show – A Cinderella Story wat op 16 Oktober deur Mzansi Ballet by die Etienne Rousseau Teater opgevoer is was net onbeskryflik.

Prince Charming se uitmuntende danse het aan ‘n jong Mikhail Baryshnikov herinner

Die mense wat wat daar was sal weet waarvan ek praat, die wat nie daar was nie. Ai, julle het ‘n mooie, mooi vertoning gemis.

Cathy Specific (Brendan van Rhyn) as die Fairy Godmother het die hele gehoor om haar pinkie gedraai.

Waar in die lewe het jy al gesien ‘n hele saal vol Vaaldriehoekers van alle ouderdomme staan op en probeer ‘n danspassie leer?

Een van Cinderella se stiefsusters geniet haarself by die Prins se maskerbal

Hierdie vertoning het nou wraggies iets vir almal gebied. Ek dink na dese gaan al wat ‘n balletskool is oorloop van nuwe inskrywings, want die kinders het oopmond hul verkyk na alles wat op die verhoog aangaan. Die ouer mense het saam geklap en plek-plek sommer saamgesing ook!

Die dansers het hul rolle uitstekend vertolk. En nee, ek het geen idee wie het wat vertolk nie. Ek weet net die stiefsusters se gesiguitdrukkings het boekdele gespreek en hul komiese talente het behoorlik geskitter in elke beweging.

Die prins se spronge en manier van dans het ek laas gesien toe ek my aan Mikhail Baryshnikov in White Nights (1985) vergaap het.

Volgens ‘n media verklaring van Mzansi Ballet is onder andere Angela Revie, Aviwe November, Veronica Louw, Marlon Frometa Ballester (National Ballet of Cuba), Shana Dewey, Paulo De Jesus Gonzalez Gonzalez, Javier Monier Jouve en die Mzansi Junior Balletdansers in die stuk te sien. Die choreografie is deur Angela Revie en Michael Revie behartig.

Hierdie jaar kan The ABBA Show – A Cinderella Story nog in Nelspruit, Bloemfontein, Durban en Kaapstad gesien word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button