Skare breek vertoonvenster vir winskopies in 1967
Vereeniging se middestad het dekades gelede al met "Black Friday"-chaos kennis gemaak!
Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dié mylpaal te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar weer terug na interessante gebeure wat deur die jare in die stad plaasgevind het. Hierdie is een daarvan…
Toe Black Friday Sales ‘n paar jaar gelede in Suid-Afrika bekendgestel is, kon ouer inwoners van Vereeniging net sug, want ons het al in die 1960’s met dié soort vertrapping kennis gemaak!
Met Vereeniging se 75ste verjaardag in 1967 het talle winkels in die hoofstraat asemrowende aanbiedinge geadverteer, wat kliënte van heinde en ver gelok het.ABC Stores, ‘n gewilde winkel in die hoofstraat, was een van die deelnemers aan dié “celebration sales” en hul spesiale maandelikse uitverkopings is weke vooruit in koerante geadverteer. Die September-uitverkoping is “the sale to end all sales” genoem en kliënte kon skaars wag dat die winskopie-jagtog begin.
Op Donderdag, 28 September 1967 het voornemende kliënte reeds vanaf 05:00 die oggend voor die winkel begin saamdrom al het die deure eers om 09:00 oopgemaak. Die skare het so vinnig aangegroei dat dit ‘n samedromming in die straat voor die winkel veroorsaak het. Verkeer is ontwrig en die polisie en verkeersafdeling se hulp moes ingeroep word om te keer dat sake skeefloop.
Toe die deure om 09:00 oopmaak, het die skare so hard van buite af gedruk dat ‘n vertoonvenster en van die winkeltoonbanke gebreek het. Die 50 personeellede van ABC Stores moes behoorlik bontstaan om die 2 000 kliënte wat in die eerste vier ure in die relatief klein winkelruimte saamgedrom het, te bedien.
Die winkel het vooraf geadverteer dat alle pryse drasties verlaag sou wees. Sommige artikels is teen ‘n 15de van hul normale prys verkoop word. Pakke klere van bekende ontwerpersname vir mans, wat normaalweg R17 gekos het, is byvoorbeeld vir net R1.99 verkoop. Sportbaadjies van R12 is verkoop teen 99c. Skoene van die beste maak is afgemerk tot 99c per paar. Sakdoeke wat normaalweg 18c elk gekos het, is teen 1c elk verkoop en is deur honderde kliënte opgeraap.
Die nasionale koerant, Rand Daily Mail, het die volgende dag berig dat kliënte tydens die uitverkoping by tye byna handgemeen geraak het. Die koerant het ook berig dat die polisie hul hande vol gehad het om die skare in toom te hou.
Een polisieman het verdwaas aan ‘n joernalis gesê hy het nog nooit in sy lewe so-iets aanskou nie. Gelukkig is niemand tydens die verkoping beseer nie en ABC Stores se direkteure het die polisie en verkeersafdeling agterna bedank vir hul bydrae om orde te midde van die groot getalle kliënte te handhaaf.
**********************************************************************

