‘n Bloeisel wat nooit sal verlep nie
"Die blomme was vir my so mooi dat ek die aand ‘n dik boek vat en 'n bloeisel daarin sit sodat ek dit kan bêre. Vroeër het ons mos alles gepars..."
Hermien van de Vyver, ‘n inwoner van Jeugland Tuiste vir Bejaardes in Vanderbijlpark, skryf:
Vrydag het ons Lentedag gevier. Ek het die Boeremusiek gehoor, toe sê hulle my. Sophia, een van ons versorgers, kom toe hier in met ‘n gevlegte kop en blommetjies in die hare.
By navraag sê sy ook dis Lentedag en hulle braai vleis vir ons. Die blomme in die hare het iemand vir haar gegee. Ek maak ‘n grap en sê ek wil ook blomme hê. ‘n Paar minute later kom sit sy ‘n takkie bloeisels agter my oor.
Dit was vir my so mooi dat ek die aand ‘n dik boek vat en die bloeisel daarin sit sodat ek dit kan bêre. Vroeër het ons mos alles gepars.
Volgende oggend kry ek die boek op die vloer, ek het met dit in my hand aan die slaap geraak. Ek soek die blom en daar maak die boek mooi op die regte plek oop. Die bloeiseltjie lyk nog net so vars soos die vorige dag en geensins plat nie.
Dis toe ek my bril opsit dat ek sien dis ‘n “syblommetjie”, met ander woorde nagemaak. Die kunsblomme lyk deesdae baie realisties! Ek het so ‘n skaap gevoel maar het die blykie van omgee steeds baie waardeer!
