Ilze Delport se uitrustings betower
Ontmoet die Vaal se modeontwerper van die jaar en haar getroue bondgenoot, Lily die Toypom.
VANDERBIJLPARK. – Ilze Delport is vroeg in Oktober as die Vaal se modeontwerper van die jaar gekroon. Dit is ‘n titel wat sy jare terug as student ook gedra het.
“Dit was in 2011. Ek het by die North West School of Design in Klerksdorp studeer en hulle het ons vir verskeie kompetisies ingeskryf,” vertel sy.
Ilze het in Heilbron grootgeword, maar het 10 jaar gelede haar eie besigheid in Vanderbijlpark geopen. Die eerste sewe jaar was moeilik, maar die laaste drie jaar het sy net vooruitgegaan.

In haar ontwerperswinkel weet haar kliënte al om ‘n baie spesiale ontvangs deur Lily te kry. Lily is Ilze se vierjarige Pomeranian wat elke oggend saam met haar werk toe kom.
Sy word ook bygestaan deur haar ma, Ronelle, ‘n oudonderwyseres met hope kreatiwiteit. Saam vorm die twee ‘n gedugte span. Hulle het al van Ilze se kinderdae saam kunsprojekte aangepak en dit baie geniet.
Onlangs moes hul ‘n rok vir ‘n matriekafskeid maak, maar kon nêrens die regte materiaal met die besondere kleure kry nie. Eindelaas het Ilze die materiaal met die hand geverf.
“Ons het aande om gewerk om al die kraletjies met die hand vas te werk. Dit was harde werk, maar baie lekker,” sê Ilze.
Hierdie jaar se Vaal Mall Fashion Designer of the Year-kompetisie was Ilze se eerste sedert haar studentedae.

“Ek dink nooit eers daaraan om deel te neem nie, maar hierdie jaar het ‘n vriendin gesê ek moet inskryf. Dit was in die middel van die besige matriekafskeid-tyd, dus het ek rokke wat ek verlede jaar ontwerp het ingeskryf,” glimlag sy.
Naas die matriekafskeidrokke wat haar jaarliks baie besig hou, ontwerp sy ook gereeld trourokke en uitrustings vir die bruide se moeders.
“Ek geniet dit. Elkeen is ‘n uitdaging. Matriekmeisies bring vir my foto’s wat hul op sosiale media gekry het en dan ontwerp ek die rok daarvolgens om by hul spesifieke liggaamsbou en styl te pas.”
* Indien jy op soek is na daardie ekstra spesiale ontwerp vir ‘n ekstra-spesiale geleentheid, kontak Ilze gerus by 074 285 8397.

