Local newsNewsNews

Caitie Rock – Die Vaal se eie Annie

Ontmoet Caitie Rock sy is maar in graad 6, maar woeker reeds met haar sang – en dramatalent. Sy het onlangs harte gesteel as Annie in die gelyknamige produksie en dan is sy ook in ‘n rock band!

MEYERTON. – Caitie Rock. Onthou die naam, want dit is een wat in die toekoms nog baie gehoor gaan word.

Caitie is ‘n graad 6-leerling aan die Laerskool Midvaal. Behalwe dat sy akademies sterk staan en baie sportief is, is die jonge dame ook met hope sang- en dramatalent geseën.

Sy het onlangs die hoofrol van Annie in die Pretoria Jeugteater se gelyknamige produksie vertolk. Nie net was sy die tweede jongste lid van die groep nie, sy was ook die enigste Vaaldriehoeker in die opvoering.

Caitie sê sy het kleintyd gereeld op die koffietafel geklim en met borsel in die hand vir haar ouers opvoerings gegee. “My ma noem my die ‘drama queen’ in die familie,” lag sy vrolik.

Caitie as Annie in die musiekblyspel, Annie. Foto’s: Verskaf

In 2018 het sy haarself, sonder haar ouers se medewete, vir ‘n sangkompetisie ingeskryf. Haar ma, Theresa, vertel sy was baie verbaas toe die organiseerders haar kontak en vertel sy moet in die finale optree.

“Ek wou by haar weet wat gaan sy sing? Caitie het geantwoord: “Mamma Mia.” Sy het toe reeds vir haarself dansbewegings uitgewerk.”

Tot haar ouers se verbasing het Caitie gewen en ‘n mikrofoon as prys ontvang. Net daar het sy besluit sy gaan nooit ophou sing nie.

‘n Ruk later het Caitie skielik borspyne begin kry. Dokters het vermoed dat dit haar hart of longe kon wees. Sy moes vir twee weke ‘n hart monitor dra, maar gelukkig is daar bevind daar is nie fout met haar hart nie.

Die probleem het by haar longe gelê. Die een long was vergroot. Dokters het aanbeveel dat sy ophou sport doen. Dit was vir haar ‘n groot slag, want sy het alles gedoen, van netbal en hokkie tot atletiek.

Caitie borrel van lewenslus

In die tyd het sy besluit om op haar sang te konsentreer. Sy het met sanglesse begin en is ook deel van ‘n rockgroep, 4 Eva Young. Die groep maak tans opslae en het selfs by Aardklop opgetree.

Die goeie nuus is dat ‘n opvolg ondersoek gewys het dat Caitie se longe soveel verbeter het as gevolg van die sang, dat sy vanjaar weer aan sport kon deelneem. So kon sy weer vir haar skool se netbal A-span uitdraf en was sy deel van die eerste hokkiespan wat hul liga afdeling gewen het.

Oor die Annie-produksie kan Caitie nie uitgepraat raak nie. Sy moes vier oudisies doen alvorens sy gehoor het dat sy die rol gekry het. “Uit 120 meisies het ek die rol van Annie gekry!” straal sy.

Daarna het 12 weke van repetisies gevolg waar haar ouers haar ten minste twee keer ‘n week Pretoria toe moes neem, opgevolg deur drie weke se vertonings in Johannesburg en Pretoria.

Daar is pas bekend gemaak dat Annie ook by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg opgevoer gaan word. Die datum is vasgestel vir Vrydag, 9 Desember.

Caitie is dankbaar vir die ondersteuning wat sy van haar skoolmaats, familie, vriende en onderwysers gekry het. “Die een aand was selfs ons skoolhoof by die vertoning,” vertel sy trots.

Met Annie nou amper agter die rug, is sy opgewonde om eersdaags haar eerste enkelsnit, getiteld Carnaval vry te stel. Sy het die liedjie self geskryf.

Die jongeling doen niks half nie en het reeds groot planne vir die toekoms. “Ek gaan ‘n veearts word en my eie praktyk hê, maar naweke gaan ek steeds sing en optree,” verklaar sy beslis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button