Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Die storie agter die storie van hierdie jaar se aanloop tot die gesogte FJC Awards.
RUBRIEK. – Verlede week was die Forum for Community Journalism (FCJ) se toekenningsaand. Die toekennings is altyd vir die vorige jaar se harde werk. Kyk, daar is ‘n storie en dan is daar die storie agter die storie.
Wanneer daardie eerste uitnodiging vir inskrywings deurkom, dan laat weet Baas Thys dadelik, “julle moet inskryf.” Om in te skryf is ‘n hele missie op sy eie.
In my geval moes ek eers deur verlede jaar se Vaalweekblaaie (wat in ‘n hoop in my kas lê) werk en elke berig uitknip en liasseer. Dan begin die soektog na wat lyk na die beste van die bestes.
Vir elke kategorie moet jy ten minste vyf berigte inskryf en vir harde nuus ‘n volle 10. Synde dat ek bietjie allergies is om harde nuus te skryf, is dit omtrent ‘n missie om 10 bruikbare artikels te ontgin.
Daarna loop soek jy jou berigte op die aanlyn argiewe en dis ‘n gedoente om dit vandaar in die regte formaat te kry en deur te stuur. Intussen kruip die sluitingsdatum al hoe nader en al wat joernalis is raak benoud.
Ten eindelaas was die Vaalweekblad Vier se inskrywings in. Dit word gevolg deur die lang, lang wag totdat die top 10 in elke kategorie bekend gemaak word.
Dan wag mens weer van vooraf om ‘n uitnodiging na die funksie te kry. Net die top vyf in elke kategorie word uitgenooi.
Groot was ons vreugde en verligting toe al vier van ons uitnodigings ontvang. Sal mos nie dieselfde wees as een kort nie!
Ai aarde, tussen al ons ander bedrywighede het ons toe skielik heelwat kwessies om oor te dink. Soos gaan ons deurry en terugkom of oorslaap? Ons wou nie oorslaap nie en het toe ‘n shuttle service gekry.
Toe is dit weer die groot gesels oor hoe laat ry ons en wie wil wat drink op pad daarheen. En die grote, wat op dees aarde trek mens aan? Joernaliste is informele wesens, moenie verwag ons gaan ge-das en ge-rok opdaag nie!
Eindelaas breek Vrydagmiddag aan en ons is vort. Natuurlik moes daar ‘n paar foto’s op die rooi tapyt geneem word. Ons was bietjie vroeg, dan doen mens sulke dinge.
Ai, en toe begin die funksie. Mensekinders, maar ons ryg die pryse in. Dis net Vaalweekblad voor en Vaalweekblad agter.
Baas Thys glimlag al hoe breër en ons raak plek-plek sprakeloos van vreugde. Moeilik om te glo ja, maar selfs ons kan sprakeloos raak.
Die kos was voortreflik. Die geselskap nog beter. Die kersie op die reeds versierde koek was toe onse Vaalweekblad vir die tweede agtereenvolgende jaar as Koerant Van Die Jaar aangewys is in ons kategorie!
So op pad uit sê Baas Thys ernstig: “Die drywer het gebel. Hy is gou Vanderbijl toe. Hy ry nou terug.” Dis laataand, maar ek dag nog so by myself, “ag ja, dan wag ons maar.” En toe voeg onse baas by, “hy het net gou die sleepwa gaan haal vir al die pryse!” Groot lag.
Wie presies wat ingepalm het sal daar sekerlik op ‘n ander plek in die koerant verskyn. Weet net ek is supertrots op elkeen van my kollegas en ja, ek self ly nog bietjie aan skok oor die beker wat nou op my tafel pryk.
Is lekker om na lange jare van namens ander mense skryf uiteindelik erkenning te kry en dit nogal vir my rubriek. Gun ons die oomblik van spog en glorie.
Net vir die rekord… hierdie jaar se koerante is alweer in ‘n hoop in my kas. Ken myself, ek gaan weer wag totdat die sperdatum op hande is voordat ek daardie knip en plak proses gaan aanpak. Dit is maar soos dit is. Sela!
