Ouma Ria (88) van Herfsoord skitter by matriekafskeid
VANDERBIJLPARK. - Daar is voor die tyd mani- en pedikure gedoen, hare is laat set en met die aanbreek van die groot aand, was ouma Ria Esterhuyzen (88) net so opgewonde soos kleindogter Femke Vanderkeere.

Femke, ‘n matriekleerling van Dr EG Jansen Hoërskool in Boksburg, het reeds vroeg vanjaar besluit dat haar geliefde ouma haar op 19 Oktober 2022 op die rooi tapyt vir haar matriekafskeid moet vergesel.
“Feme is ons enigste kind en was van haar babadae af besonders lief vir haar Ouma en Oupa. Sy het oneindig baie ervaringe as baba en kleuter saam met hulle ondervind, en selfs deur haar tienerjare was die drie onafskeidbaar,” vertel trotse pa Johan.
Tydens Covid lockdown het Femke self e-posse gestuur om verlof te vra om na haar Ouma en Oupa te gaan omsien want hulle was al in hul tagtigs.
Toe Oupa 2 jaar gelede skielik oorlede is, was dit ‘n geweldige slag vir Femke, maar dit het haar en Ouma Ria nog nader aan mekaar gebring.
Ouma Ria wat al 55 jaar ‘n Vaaldriehoeker is en tans by Herfsoord ‘n inwoner is, is die eerste persoon wat van al Femke se prestasies hoor en is ook die die amptelike raadgewer in Femke se lewe.
In Januarie het Femke aangekondig dat sy die belangrikste persoon in haar lewe gaan vra om saam met haar op die rooi tapyt by haar matriekafskeid te loop … oum Ria – die een persoon waarop sy altyd kan staatmaak, haar altyd ondersteun, saam met haar lag en saam met haar huil.
Ouma Ria se waardes is vir haar die die goue maatstaf vir standaarde in haar lewe.

Maar arme ouma Ria het dit nie verwag nie. “Sy was dadelik in trane toe Femke haar vra om saam te gaan,” vertel Johan.
Ouma Ria en Femke het saam Femke se rok uitgekies en Ouma het aangedring om haar handskoene en hoedjie te dra, want in haar dae het dames netjies aangetrek!
Toe begin al die voorbereiding vir ouma Ria en Femke en met die aanbreek van die groot aand was hulle gereed vir die rooi tapyt.
Ouma Ria en Femke wou albei graag met ‘n limousine ry. Hul verwelkoming by die afskeid was oorweldigend.
Ouma Ria het sommer groot handeklap gekry en was so beindruk met al die kinders se pragtige formele aanddrag.
Sy reken dit was die beste glansgeleentheid wat sy nog in 88 jaar bygewoon het en het dit vreeslik geniet.
- Femke jy is ‘n kleindogter duisend, ons is saam met jou hele gesin trots op jou – Vaalweekblad.

