Uitstalling oor Oekraïne trek aandag
'n Plaaslike fotograaf se fotografiese uitstalling oor die Oekraïne het die afgelope naweek baie aandag getrek.
MEYERTON. – Elsje van Zyl het in 1998 as jong fotografiestudent die voorreg gehad om die land saam met haar ma, Alida van Deventer (née Von Maltitz), te besoek toe laasgenoemde ‘n marionette-fees in Lutsk (‘n dorp in die noord-weste van die land) bygewoon het.
Nou word die foto’s wat deur Elsje se lens vasgevang is uitgestal in ‘n tyd wat die Oekraïne in ‘n verwoestende oorlog met die Rusland gewikkel is.
Die foto’s wat uitgestal word stel die land, sy mense, geskiedenis en argitektuur in ‘n ongerepte toestand voor, nog voor die oorlog die land verniel het.
Kollage-kuns deur Elaine Erasmus, ‘n vriendin van Eslje, met ‘n sterk anti-oorlog tema, sowel as poppe wat deur Alida uit hout gekerf is, word by die uitstalling uitgestal.
Liubov Abravitova, die ambassadeur van die Oekraïne in Suid-Afrika het die uitstalling bygewoon.
Die uitstalling getitteld “Ukraine 1998” duur van 22 Oktober tot 9 November by Ligkuns-kunsgallery by 57 Lochstraat in Meyerton.



