Juan maak geskiedenis met 3 videos op SA Top 100
Die sanger en liedjieskrywer Juan Boucher, gebore en getoë Vaaldriehoeker wat in Vereeniging groot geword het, het verlede week geskiedenis gemaak as die eerste Afrikaanse kunstenaar met drie musiekvideos wat terselfdertyd op Youtube se “top #100 Music videos South Africa” verskyn het.
Die “top #100 Music videos South Africa” is n weeklikse ranglys van die gewildste musiekvideos in Suid-Afrika. Dit sluit ook van die mees bekende internasionale kunstenaars soos onder meer Lady Gaga, Sam Smith en Beyonce in.
“Dit is ʼn strawwe kompetisie, maar Juan hoef vir niemand terug te staan nie, want die platinum-bekroonde sanger het #43, #91 en #99 onderskeidelik vir sy musiekvideos vir sy liedjies, Koue Hande, Want Jy weet en Vreemdeling behaal,” lui die amptelike mediaverklaring.

Koue hande #43 se musiekvideo volg Juan en sy band agter die skerms en op die verhoog tydens verskillende optredes. Dit wys ook tonele waar Juan padlangs toer in ʼn ou beetle, saam met sy Kitaarspeler Rudi Kleingeld en sy goeie vriend die sanger Len Muller.
Die musiekvideo laat kykers toe om te ervaar hoe dit sou voel om saam met die band te toer en wys vir Juan waar hy op sy gemaklikste is – Op die verhoog waar hy sy musiek kan deel. ‘’Die lekkerste ding om te doen is om by al my mense uit te kom,’’ sê Juan.
Want Jy Weet #91 se musiekvideo is saamgestel uit tuisvideos wat Juan en sy vrou Shamodene tydens hul wittebrood in Namibië geneem het en het sy aanhangers ‘n meer intieme blik op sy lewe gegee.
Juan het hierdie idee voortgesit met die vrystelling van Novah wat hy vir hul dogtertjie geskryf het. In die video het Juan kosbare tuisvideos van sy gesin met sy aanhangers gedeel.
Met meer as 320 000 kykbeurte behaal die musiekvideo Vreemdeling #99 op die youtube ranglys. Die liedjie beskryf ‘n eenvoudige liefdesverhaal en die video beeld uit hoe twee mense mekaar as vreemdelinge kan ontmoet, verlief raak, en mettertyd verby mekaar kan leef en weer vreemdelinge binne ʼn verhouding kan word.
