Bewustheid oor borskanker geskep
Oktober is borskankerbewusmakingsmaand, 'n jaarlikse veldtog om bewustheid oor die impak van borskanker te skep.
VEREENIGING. – Borskanker is die kanker wat die meeste in Suid-Afrika voorkom, met een uit 25 vroue wat ‘n kans staan om tydens hul leeftyd borskanker te ontwikkel.
Dr. Aadila Methar, ‘n mediese dokter van Vereeniging en nuwe sekretaris van die borsbeeldingsvereniging van Suid-Afrika (BISSA), ‘n sub-spesialisgroep van die Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika (RSSA), sê die vroeë opsporing van borskanker kan help dat pasiënte betyds behandel kan word.
BISSA doen ‘n beroep op vroue om gereeld hul borste self te ondersoek en nie te wag vir hul gesondheidspraktisyns of lewensmaats om knoppe of veranderinge in borste te ontdek nie.
Volgens Vaal Radiology kom 75% van gevalle van borskanker by vroue voor – meestal vroue in die ouderdomsgroep bo 50.
Methar raai ook vroue tussen die ouderdomme van 40 en 75 aan om gereeld siftingstoetse (mammogramme) te ondergaan. Dit kan help om die kanker vroegtydig op te spoor.
Vroue wie se nabye familie (dikwels moeders en susters) met borskanker gediagnoseer is het ‘n verhoogde kans om tydens hul leeftyd borskanker te ontwikkel.
Vaal Radiology het ‘n prosedure wat uit drie stappe bestaan wat kan help om borskanker vroegtydig op te spoor:
STAP 1: Voor die spieël

Staan sonder klere voor jou spieël.
Doen ‘n visuele inspeksie van jou borste met jou arms ontspanne regaf langs jou sye.
Lig nou jou arms hoog op bo jou kop.
Met jou arms in die lug, kyk vir enige veranderinge in grootte, vorm, simmetrie, rimpelings en kuiltjies in die borste.
STAP 2: Lê op jou rug

Plaas ‘n kussing of ‘n opgevoude handdoek onder jou regterskouer.
Plaas jou regterhand agter jou kop (dit help om die borsweefsel eweredig te versprei).
Neem ‘n klein bietjie jel of seep (omtrent die grootte van ‘n muntstuk).
Gebruik die middelste drie vingers van jou linkerhand – hou die vingers plat – druk dit stewig teen die bors en maak ‘n sirkelbeweging oor die bors.
Jy kan hierdie metode gebruik om die hele bors te ondersoek.
Voel vir knoppe, verdikkings of enige abnormale veranderinge.
Maak seker om die hele borsarea te ondersoek, insluited die area by jou sleutelbeen, jou borsbeen en onder jou arms.
Doen dieselfde met jou linkerbors.
Druk die tepel van elke bors liggies tussen jou duim en wysvinger vas.
Enige afskeiding – bloederig of deurskynend – behoort onmiddelik by jou dokter aangemeld word.
STAP 3: In die stort

Ondersoek ook jou borste in die bad of stort waar hande makliker oor nat vel gly.
Met plat vingers, beweeg stewig oor elke gedeelte van die bors.
Gebruik jou regterhand om jou linkerbors te ondersoek.
Gebruik jou linkerhand om jou regterbors te ondersoek.
Voel vir knoppe, harde gedeeltes of verdikkings.
Hoekom dit belangrik is om jou borste maandeliks te ondersoek:
Meeste borskanker word deur vroue self opgetel.
Wanneer kankers vroegtydig opgespoor word kan pasiënte vinniger behandeling ontvang.
Die kanse om volkome genees te word is hoër en dit kan die verspreiding van kanker keer.
Dit is belangrik om jouself maandeliks te ondersoek.
Wanneer om jou borste te ondersoek:
Volg dieselfde prosedure een keer per maand, ongeveer ‘n week na die begin van jou
menstruele siklus, wanneer borste gewoonlik nie sag of opgeswel nie.
Na menopouse, kontroleer borste op die eerste dag van elke maand.
Na ‘n histerektomie, raadpleeg jou dokter of kliniek vir ‘n gepaste tyd van die maand.
Dit sal jou gemoedsrus gee om maandeliks te ondersoek.
As jy tussen die ouderdom van 20 en 40 is, laat ‘n dokter jou borste elke drie jaar ondersoek.
Vroue bo 40 word aangeraai om jaarliks ‘n mammogram te ondergaan.
Bronne: Vaal Radiology, eNCA

