Local newsNewsNews

Kuiertent in die straat opgeslaan

Die inwoners van Vaalpark het Vrydag rooi gesien toe 'n wit tent skielik in die middel van ‘n straat opgeslaan is ...

VAALPARK. – Keiskammalaan se inwoners was smoorkwaad en stomgeslaan toe daar Vrydag, 21 Oktober ‘n tent in die middel van die straat opgeslaan is.

Stephen Venter van Bring Hoop Vaaldriehoek is oorval deur klagtes. Hy is later in die reën en donker (Vaalpark het op daardie stadium beurtkrag gehad) uit om self te gaan kyk wat aangaan.

‘n Inwoner vertel

‘n Inwoner wat anoniem wil bly sê die lawaai was Saterdag erger as Vrydag. “Dit het Saterdagoggend omstreeks 06:00 al begin. Daar was motors tot doer onder in die straat,” het sy gesê.

Om ‘n bietjie stilte te kan hê, is hulle na haar suster toe en het eers die aand teruggekom. “Die tent was toe al weg, maar die mense het in die straat gedrink en lawaai. Hulle het in ons oprit op kampstoele gesit en drink.

“Ons moes hul toestemming vra om te kon ingaan. Die volgende oggend was daar ‘n groot nat kol by een van die pilare soos wat hul daar geürineer het,” het sy telefonies vertel.

Sy het bygevoeg dat niemand haar vooraf ingelig het oor die beplande funksie in die straat nie. Public Eye het ook heelwat klagtes ontvang. Volgens ‘n woordvoerder van Public Eye was die polisie eenkeer op die toneel, maar het niks gedoen nie. Net omgedraai en weer gery.

Meer vrae as antwoorde

Alle klagtes het op dowe ore geval. Die tent is eers laat Saterdagmiddag verwyder. Stephen Venter het gesê: “Dit is onaanvaarbaar dat mense moet toestemming vra om by hulle eie erwe in te beweeg. Dis onaanvaarbaar dat drink op straat toegelaat word.

“Die publiek eis antwoorde. Wie gee toestemming vir so iets? Hoe is dit toelaatbaar? Drink in die publiek bly teen die wet. Wat gaan gedoen word om seker te maak dit gebeur nie weer nie?”

Die munisipaliteit se weergawe

Die kommunikasiebestuurder van die Metsimaholo Munisipaliteit, dr. Gino Alberts het op ‘n skriftelike navraag geantwoord dat toestemming gegee is om die straat te sluit vir ‘n onthullingseremonie.

Volgens hom het die munisipale verkeersafdeling inspeksie gedoen om te sien of daar aan die vereistes voldoen is.

Van die vereistes waaraan voldoen moes word is dat inwoners toegang na hul huise sal hê en dat daar geen voorwerpe in die pad geplaas moes word wat die pad of bande beskadig nie.

Die aansoeker moes ook vooraf al die bure se toestemming gekry het. Volgens Alberts het die aansoeker aan al die prosedures voldoen en is die tent sonder enige klagtes opgeslaan.

Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit besluit het om in die vervolg enige sluiting van paaie eers na die wyk se raadslid te verwys, wat dan op sy/haar beurt die verkeersafdeling sal inlig wat dan die inspeksie sal doen.

Volgens die wyksraadslid

Die wyksraadslid van die DA, Ruanda Meyer, het telefonies bevestig dat sy nie oor die beplande toemaak van die pad of die oprigting van ‘n tent ingelig is nie.

“Ek het Vrydagaand omstreeks 18:00 daarvan te hore gekom en dit dadelik oral gerapporteer.
“Uiteindelik het ek die belofte ontvang dat die tent vroeg Saterdag verwyder sou word, maar toe ek later die dag gaan kyk, was die tent steeds daar.”

Sy het bevestig dat daar ‘n ondersoek na die aangeleentheid geloods is en dat hul nie sal rus alvorens hul nie antwoorde het oor wie verantwoordelik was vir die manier hoe dinge uitgevoer is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button