So gaan dit nou met Lindie na bytbesering
Sy is uit die hospitaal ontslaan maar 'n lang herstelpad lê nog voor
“Die Vaaldriehoek se gebede en ondersteuning is ongelooflik en ek sê elke dag net DANKIE!”
Só sê me. Lindie van Rooyen (54), die stigter en direkteur van PurrPaws for Life Animal Rescue in die Vaaldriehoek, wat ‘n maand gelede ernstige beserings aan haar been opgedoen het toe ‘n groot hond wat sy op versoek van die eienaars uit ‘n perseel wou verwyder, haar onverwags aangeval het.
Sy is aanvanklik in die Sasolburgse hospitaal opgeneem en later die aand na Bloemfontein oorgeplaas, waar sy die volgende weke onder andere deur plastiese sjirurge van die Universitas-hospitaal behandel is. Verskeie teaterprosedures is uitgevoer en ‘n veloorplanting is onder andere ook gedoen.
Lindie is verlede week ontslaan, maar die slegte nuus is dat sy tans infeksie in die wond het.
“Ek was vanoggend in om die ‘clips’ te laat uithaal, maar weens die infeksie het van die vel ongelukkig nie gevat nie. So, daar gaan seker op ‘n latere stadium weer ‘n oorplanting moet wees,” sê Lindie.
“Ek is nou ‘n week terug by die huis en Chanel gaan aan by die shelter, meestal om skoon te maak want ons het al die ou kampe afgebreek. Ons sal binnekort die hele shelter skoongemaak hê, dan kan ek weer volunteer-dae hou. Dit vat net lank om al die ou goed af te breek en oor te bou. Maar soos hul sê, Rome was nie in een dag gebou nie!”
Almal wat Lindie ken, weet sy is ‘n soort mens wat nie kan stilsit nie. “Ek sukkel met my gemoedstoestand omdat ek nog nie kan werk nie … omdat ek nie by die diere betrokke kan wees en nie self by die shelter in beheer is nie. Die frustrasie om nie te kan werk nie is vir my ‘n nagmerrie! Chanel is regtig my lifesaver! Sonder haar en Lukas Naudé in my lewe sou ek nie kon nie, en natuurlik almal se gebede en ondersteuning …. daarsonder sou alles nie moontlik gewees het nie!”
Lindie sê sy is oneindig dankbaar teenoor almal wat ondersteuning aangebied het sedert haar besering. “Selfs Vaalpets het uitgereik met kosdonasies en van die besighede naby ons shelter soos Lionel’s Earthmoving Equipment het Chanel gehelp terwyl ek in die hospitaal was, en natuurlik LG Site Maintenance wat uit hul pad gegaan het om die plek te help skoonmaak. Dis basies net ou kampe wat verwyder word en basiese instandhouding. Ons het vrywilligers gehad wat kom help bome plant het ook. Dis die klein goedjies wat my moed gee wanneer ek lê en magteloos voel… van ‘n 24/7 lewe na feitlik permanent in die bed, met net badkamer toe en terug as beweging vir die dag!”
Sy moet oor drie weke teruggaan na die Universitas-Hospitaal vir die volgende konsultasie en hoop dat die infeksie teen daardie tyd onder beheer gaan wees. “Dan sal ons die verdere operasies trotseer,” sê sy.
“Die shelter is en was nog altyd my asem. Nou moet ons net aanhou bid vir my been wat infeksie het, om so gou as moontlik te herstel.” Enigiemand wat die dierehawe wil ondersteun, kan ‘n inbetaling maak by: Purrpaws for life, Mercantile Bank, Vanderbijlpark Branch, Cheque Account Number: 1050748298



