Local newsNewsNews

Suzette Vlotman – daar is net een soos sy

Ontmoet Mev. Suzette Vlotman oudonderwyseres van Laerskool Frikkie Meyer. 'n Gebore onderwyseres met 'n hart van goud.

VANDERBIJLPARK. – Daar is onderwysers en dan is daar gebore onderwysers. Dié met ‘n gawe en ‘n ingebore intuïsie om kinders te verstaan en te leer. Mev. Suzette Vlotman is een van daardie besonderse mense wat met groot deernis skoolgehou het.

Mev. Vlotman het in tale gespesialiseer en was ook altyd betrokke by sportafrigting.

Die gebore en getoë Vrystater het aan die Hoërskool Paul Erasmus matriek geskryf in 1965, alvorens sy aan die eertydse Bloemfonteinse Onderwyskollege gaan studeer het. Haar eerste onderwyspos was by A.J Jacobs Primêre Skool in Sasolburg in 1978.

‘n Jaar later het sy haar by die personeel van Laerskool Frikkie Meyer in Vanderbijlpark aangesluit. Hier het sy haar passie om kinders te leer vir byna vier dekades uitgeleef.

Tale was nog altyd haar forte en sy het die graad 5 tot 7’s onderrig in Sotho, Tswana en Engels. Dan was sy in die 80’s ook liggaamsoefening (LO) onderwyseres.

Ongeduldig het sy nooit geraak met enige kind nie en van skree en slaan in haar klasse was daar ook geen sprake nie. Elke kind is met liefde, respek en deernis hanteer, al het die jongelinge ook maar hul stoutighede gehad.

Mev. Vlotman het ‘n groot liefde vir alle diere. Hier het sy haar Covie-kat vir fisioterapie gebring Foto: Gerda Bruinette

Self was ek in die vroeë 80’s in haar klas. Ek onthou goed hoe moedeloos sy kon raak omdat die Afrikanertjies gereeld “poeple” in plaas van “people” geskryf het, of “Oktober” in plaas van “October” in hulle Engelse skrifte laat verskyn het.

Mev. Vlotman het ook menige atleet oor die jare afgerig, asook dosyne netbal- en later hokkiespanne.
Sy was ook altyd die een wat saam met die meisies veldskool toe gegaan het. Self was, en is, sy nog altyd sportief en gesondheidsbewus. “Ek gaan gym nog steeds en doen wateraerobics,” vertel sy. Sy is ook ‘n vegetariër.

“Ek het van kindsbeen af geweier om vleis te eet. Dit het niks met my geloof of gesondheid te doen nie. Ek is net te lief vir diere.”

Haar man Joe, maak maar vir homself kos, want sy vleistande is nooit getrek nie. Die egpaar sal op 19 Desember al 52 jaar getroud wees. “Hy hoef net een datum te onthou vir twee gebeurtenisse. Ek verjaar ook op 19 Desember,” lag sy.

Suzette is van nature vrolik en lag maklik. Haar skerp sin vir humor duik oral op in die gesprek. Alhoewel sy 100% tweetalig is (Joe is Engelssprekend), lê Afrikaans haar na aan die hart. PG du Plessis se Plek van die Vleisvreters was vir haar ‘n openbaring, Dalene Matthee se bosboeke spesiaal en Lukas Maree se digkuns besonders.

Ons lag lekker toe ons agterkom albei van ons het ‘n sagte plek vir Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas. Die beskrywing in die boek waar Ou Melietie haar hand deur die waswater trek en haar armbande klingel is so raakvat besonders. “Dis juis oor daardie boek waar ek my liefde vir armbande gekry het,” onthou sy met ‘n glimlag.

Naas lees hou sy ook van musiek en wens dat sy na die befaamde Andé Rieu in sy tuisdorp, Maastricht in Nederland kon gaan kyk. Sy was al in Nederland, Frankryk, Duitsland, Skotland en Engeland. “In Engeland het ek ‘n konneksie met die plek gevoel, so asof ek al daar was. Die ou geboue en die rankrose teen die huise was vir my baie mooi.”

Sy is baie lief vir tuinmaak en onthou nog hoe mooi Frikkie Meyer se tuine in 1979/80 was.
“Jou ouma het nog die blomme geplant, daar waar ons altyd ons motors gestop het.”
Ek beaam, my Ouma Bessie het gedink die skool se tuin lyk sleg en toe doen sy dit oor!

Behalwe dat sy oor die dekades die ma van vele laerskoolkinders was, het sy ook altyd ‘n oop hart gehad vir honde en katte. Op die oomblik het sy amptelik net haar Covie-kat, maar soos sy sê: “Hier is altyd ‘n wegloopkat wat intrek.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button