E-tol moet nog formeel tersyde gestel word
Die omstrede e-tolstelsel wat uit die staanspoor hewige teenkanting gekry het se dae is moontlik getel.

Sanral se e-tol-skuldlas is vandeesweek na die nasionale- en Gautengse provinsiale regering verskuif. Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, moet egter steeds die stelsel formeel tersyde stel.
“Al wat sover gebeur het, is dat die minister van finansies, Enoch Godongwana, met sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) die gifbeker van die ontwikkelingskostes van die e-tolstelsel en die Gautengse snelweg-opgraderingskostes vanaf Sanral na die nasionale en Gautengse belastingbetalers geskuif het,” het Adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter en LPW: Gauteng in ‘ n mediaverklaring gesê.
Dit is steeds ‘n ope vraag hoe die skuld gefinansier gaan word en die VF Plus monitor die situasie.
“Die gehate e-tolstelsel is dus nog nie amptelik dood nie en daarom moet die druk teen die ANC volgehou word om dit finaal tot ʼn einde te bring. Ook om diegene wat die monster geskep het, tot verantwoording te roep.
“Die VF Plus loods daarom opnuut ‘n veldtog teen e-tol en die ANC wat dit geskep het.
“Die eerste doelwit is om te sorg dat die ANC-regering in Gauteng sy belofte gestand doen om die stelsel af te skaf.
“Beide die vorige premier van Gauteng, David Makhura en die huidige premier, Panyaza Lesufi, het telkens beloof om die stelsel af te skaf deur ʼn ooreenkoms met die nasionale ANC-regering aan te gaan. Tot dusver was hul pogings vrugteloos en net leë woorde,” lui die verklaring.
“Indien dit nie afgeskaf word nie of selfs gedeeltelik behou word, sal die VF Plus poog om as deel van ʼn nuwe Gautengse koalisieregering ná die 2024-verkiesing ʼn hofaansoek teen die nasionale regering te bring om die stelsel af te skaf.
“Die hofaansoek behoort slegs nodig te wees indien die ANC steeds op nasionale vlak sou regeer. Indien ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus sal deel uitmaak ook op nasionale vlak regeer, sal die VF Plus sorg dat die stelsel afgeskaf word.
“Die tweede doelwit is om te sorg dat daar aanspreeklikheid is vir diegene verantwoordelik vir die skep van die e-tolstelsel.
“Sou e-tol wel nou afgeskaf word, moet die waarheid rakende die ontstaan en wettigheid al dan nie van die stelsel finaal vasgestel word deur die skep van ʼn kommissie van ondersoek.
“Voortspruitend uit of die kommissie van ondersoek of die hofaansoek moet alle persone en rolspelers wat moontlik betrokke was by die skep van die stelsel persoonlik aanspreeklik gehou word sover dit regtens moontlik is.
“Dit sluit ook diensverskaffers in. Alle onreëlmatige inkomste wat verdien is, moet teruggevorder word, ook dié van oorsese diensverskaffers indien aanspreeklikheid gevestig is.”
“Indien die hele proses vir die skep van die e-tolstelsel onwettig blyk te wees, behoort alle fondse betaal sedert die stelsel aangeskakel is, ook terugbetaalbaar te wees”.
- Die VF Plus was die eerste organisasie wat besef het dat bestaande en reeds afbetaalde snelweë elektronies getol gaan word en het destyds in Februarie 2011 ʼn aanlyn petisie geloods wat in drie weke 130 000 handtekeninge gewerf het.
