Meyerton-man wat “gejag” word na K-woord is glo “skisofreen”, “bipolêr”
Die familie van ’n 43-jarige man van Meyerton wat “gejag” word nadat hy glo die K-woord gebruik het in ‘n video wat Donderdag viraal gegaan het sê die man ly aan skisofrenie en bipolêre versteuring.
MEYERTON. – Die man se naam is aan Vaalweekblad bekend maar die familie het die inligting verskaf op die voorwaarde dat ons nie sy identiteit bekend maak nie.
Ten spyte van versoeke vir stawende dokumentasie en dokterverslae wat die bewerings staaf het ons egter nog nie ontvang nie.
Die herrie wat losgebars het volg nadat ‘n video waar die man skynbaar die gewraakte k-woord herhaaldelik voor ‘n groep swartmense herhaal viraal op sosiale media gegaan het.
Verskeie aanlyn publikasies het reeds daaroor berig en die Gautengse premier Panyasa Lesufi het Donderdag op die sosiale media platform Twitter gesê dat die man “gejag” sal word.
“Hier in Suid-Afrika gaan jy nie ons name noem (en die K-woord gebruik) en dan verwag om vrylik daarmee weg te kom nie. Wees gerus, ons sal hierdie man jag (tot ons hom kry). Rasiste in hierdie land is almal verstandeloos en nutteloos,” het Lesufi gister in ‘n Tweet gewaarsku.
Intussen het Vaalweekblad met die dogter en die 71-jarige pa van die man op die video gepraat.
Die dogter bly in Meyerton en die pa in die Verenigde Koningkryk.
“Hy ly al jare aan skifofrenie en bipolêre versteuring. Ons het die eerste keer onraad vermoed toe hy jare gelede selfmoord probeer pleeg het. In 2010 het sy toestand vererger.”
Volgens die pa was die seun al by verskeie klinieke, maar hy bly nie lank daar nie.
Die man bly glo alleen in Meyerton. Sy dogter het uit die huis uit getrek en leef nou saam met haar kêrel.
Volgens die pa raak sy seun dikwels aggresief.
“Hy het my uit ’n vorige geleentheid uit sy huis gejaag. Ek wil nie hê hulle moet hom toesluit nie, maar ek dink hy behoort vir die veiligheid van ander mense toegesluit te word,” het die pa gesê.
Volgens die pa is die man in die Sebokeng-hospitaal opgeneem na die voorval verlede week.
Vaalweekblad het Lesufi se woordvoerder vir kommentaar genader.
Vuyo Mhaga, woordvoerder in die premier se kantoor, sê Lesufi is tans in Lesotho vir die inhuldiging Sam Matekane, die land se nuwe eerst minister en was nie beskikbaar om kommentaar te lewer nie.

Lees die oorspronklike storie hier
