Local newsNewsNews

Nolan Marais, hartedief op nege maande

Ontmoet Nolan Marais. Die kleinman is 9 maande oud en bereik al sy mylpale al het die dokters gesê sy brein is kleiner as normaal.

VANDERBIJLPARK. – Nolan Marais is ‘n op en wakker baba van nege maande. Sy ogies mis niks en hy verkyk hom aan die kamera en gekleurde notaboek in die vreemde tannie se hande. Maak ogies, glimlag skaam en laat wiel met sy loopring.

Moeilik om te glo dis dieselfde baba waaroor Vaalweekblad in Julie vanjaar berig het. Op daardie stadium was hy nog aan die herstel na ‘n groot operasie.

Klein Nolan bereik al sy mylpale, ten spyte daarvan dat dokters gesê het sy brein is kleiner as normaal.

Nolan is met ‘n gesplete bo-lip gebore en die operasie wat hy ondergaan het was ‘n moeilike een. Hy het in daardie tyd ook baie gewig verloor en dit het maande geneem voordat dokters kon vasstel dat sy liggaam allergies is vir een van die hoofbestanddele in die meeste blikke melk.

Nou kry hy die regte voeding en alles gaan sommer klopdisselboom. Hy is sy ma Jessica, se vreugde en sy pa Dean, se trots. Hul reënboogseuntjie nadat sy ouer boetie, Daniel oorlede is.

Daniel is destyds op 27 weke gebore en het moedig geveg totdat hy weens sepsis dood is, net tien dae voordat hy vyf maande oud so word.

Van die mooie babagoedjies wat Jessica op bestelling maak.

‘n Maand later het Jessica ontdek sy is weer swanger. Aan die begin was dit ‘n moeilike swangerskap. Sy het drie keer begin bloei en toe sy vyf maande swanger was is daar bepaal dat Nolan ‘n gesplete bolip sou hê.

Die sonar het ook gewys dat hy moontlik breinprobleme sou hê en ‘n dokter het aanbeveel dat sy die swangerskap termineer.

“Ek het geweier,” vertel sy dankbaar. Alhoewel skanderings gewys het dat Nolan se brein kleiner is as die gemiddelde, is daar geen breinskade nie. “Ons verwag dat hy effens stadiger sal ontwikkel, maar hy verras ons keer op keer,” beduie sy.

Die kleinman rol al self om en kan al self regop kom om te sit. Hy was ook die een wat die knoppie wat musiek speel op sy loopring ontdek het.

Nolan en Jessica is op die stadium onafskeidbaar. Sy het besluit om voltyds na hom om te sien en nie weer te gaan werk nie. Dis toe dat sy Lyfie Mens, ‘n troetelnaam wat sy vir Daniel gehad het, begin het.

Sy maak nou baby bloomers, kopbande, borslappies en dummy-clips op bestelling. “Ek het destyds besluit ek is nie kwaad vir die wêreld net omdat my baba gesterf het nie. Ek geniet dit om mooi goed vir ander babas te maak,” vertel Jessica, wat baie lief is vir kinders.

Daniel het maar amper vyf maande geleef, maar hy het ‘n groot impak op mense gehad. Mense van oral oor, tot so ver as Indië, het gebid en boodskappe gestuur,” onthou sy.

Al was Daniel se siekte en afsterwe ‘n ongelooflike traumatiese en hartseer tyd, het daar ook baie positiewe dinge voortgevloei.

Twee van Jessica se skryfstukke, “Faith for my son” en “Giving my son back to God” is opgeneem in ‘n boek, Secrets of Super Powered Moms deur dr. Lethabo Machabu.

Daniel sal altyd ‘n spesiale plekkie in die Marais-gesin se harte hê. Sy foto’s is teen die muur saam met afdrukke van sy handjies en voetjies en hy sal altyd die inspirasie agter sy ma se kreatiewe idees vir Lyfie Mens bly.

En Nolan? Nolan skitter en geniet elke dag terdeë en met sy mooie oë en glimlag gaan hy nog baie harte steel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button