Local newsNewsNews

SAVF-takke span saam vir kankerbewusmaking

“Aan al die gaste wat hul boodskappe van kankeroorwinning gedeel het, baie sterkte en ons dank ons Hemelse Vader vir Sy genade,” is die organiseerders se boodskap.

MIDVAAL. – ‘n Suksesvolle kankerbewusmakingstap is op 7 Oktober vir die eerste keer deur die Suid-Afrikaanse Vroue-federasie (SAVF) Vaal Marina en SAVF Mamello aangebied. Sowat 200 deelnemers, wat volwassenes sowel as kinders ingesluit het, het die “Cancer Walk” ondersteun.

“Dit was ‘n prettige en ontspanne atmosfeer en die deelnemers het dit duidelik geniet om deel hiervan te wees,” sê me. Bettie Vermeulen, een van die organiseerders. Elke stapper is aan die einde van die 3km met botteltjie water beloon.

Die Departement van Gesondheid het ‘n bewusmakingsboodskap oor verskeie tipes kanker aan die stappers en besoekers oorgedra. Volgens die departement word kosbare lewens deur kanker kortgeknip, maar deur opvoeding en deurlopende bewusmaking kan die siekte makliker geïdentifiseer en doeltreffender behandel word.

Die kankerbewusmakingstap was een van SAVF Vaal Marina Dienssentrum en SAVF Mamello se streeksprojekte om geld in te samel. Die SAVF Dienssentrum in Vaal Marina is ‘n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie wat fokus op kinderbeskerming en dienste aan bejaardes, en ook hulp in die gemeenskap verleen. Buiten dat behoeftiges versorg en ontwikkel word, word aktiwiteite ook gereël om die gemeenskap aktief te bemagtig.

Die voorsitter, me. Petra Bouwer en die bestuurslede bedank almal in Vaal Marina vir hul positiewe gesindheid en vir die donasies wat deur die plaaslike gemeenskap geskenk is. Spesiale dank gaan ook aan die brandweer en almal wat tydens die afgelope bewusmakingsdag opgetree en vermaak verskaf het. “Aan al die gaste wat hul boodskappe van kankeroorwinning gedeel het, baie sterkte en ons dank ons Hemelse Vader vir Sy genade,” is die organiseerders se boodskap.

 

 

 

 

 

Lede en ondersteuners van die SAVF-takke in Vaal Marina en Mamello wat aan die bewusmakingsdag deelgeneem het. Die optog is deur ‘n brandweervoertuig gelei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button