Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Ek wonder hoekom ‘n winkel die verkeerde appels in hul appeltert gebruik en oor kerse wat deesdae heeltemal te vinnig uitbrand.

RUBRIEK. – Saterdag net so voor 17:20. Ons kyk Die Manakwalanners (al weer). Die honde lê rustig. ‘n Plaaslike radiostasie speel boeremusiek vanuit die kamer. Ma brei teddiebere en ek skryf artikels. Rustig.

Volgende oomblik flikker die sitkamerlig so twee keer. Ek en Ma kyk saam op en toe is daar niks. Geen beeld op die televisie nie. Geen lig in die sitkamer nie. Geen WiFi sein nie.

Ek vlieg op om te gaan kyk of dit die huis se krag is wat dalk uitgeskop het. Daar brand geen liggies by die meter nie. “Dis nie ons krag nie,” skree ek gang af en sit solank die geiser af.

Die gewone ritueel volg. Alles by die muurproppe afskakel. Pan in die yskas sit vir die water wat noodwendig gaan begin drup.

Ek beloer die WhatsApp-groepe. Die een word dadelik gesluit voordat die hele CW-area se bevolking kan begin kla. ‘n Groepadmin sê hul rapporteer. Hulle sal ons op hoogte hou.

Ek en Ma sit eers in die skemerdonker en eet appeltert met room. Vanmiddag gaan koop, want ek het inspirasie vir ‘n paar moeilike artikels benodig.

Die appeltert is met gedroogde appels gemaak. Erg vreemd. Ons wonder hoekom sal die winkel dit nou doen? Dis dan appeltyd en appels is in oormaat beskikbaar.

Daarna dra Ma kerse aan. Rooies die keer. ‘n Oom het eenkeer in ‘n winkel beweer dat die rooies langer brand as die wit kerse. Tot op hede kon ons nog nie bepaal of dit werklik so is nie, maar die wittes brand besonder vinnig uit.

Twee beurtkragbeurte en dan is dit klaar. Ma reken vandag se kerse sou nie goeie opsitkerse gemaak het nie!

Met die kerse wat brand, sukkel Ma eers weer met ons enigste solarlig. Die word elke dag plegtig op ‘n stoel in die son staangemaak om te herlaai, want met Vanderbijl se elektrisiteit weet mens nooit.

Ons het die lig verlede jaar persent gekry, maar die instruksies is nie gegee nie. So dis ‘n gekarring en knoppiedrukkery van ‘n ander aard om die lig te kry om heeltyd te brand.

Ek het al by die lig in die kombuis probeer kos maak. Dan moet ek kort-kort vir die lig waai sodat dit weer kan skyn. Soms gaan die gewaaiery met ‘n paar volksvreemde woorde gepaard, maar langer aanbly wil die lig nie aanbly nie.

Eindelaas het ons die ligte aan en die kerse brand. Ma gaan sit. Ek tik intussen in die donker voort. En daar gaan die elektrisiteit aan.

Ons is baie bly, maar nou begin daar weer ‘n ritueel van voor af. “Ons los maar eers die geiser af,” sê-vra Ma soos sy elke keer doen. Ek beaam. Die Wi-Fi kom weer aan. Die kerse word doodgeblaas en die solarlig afgesit.

Net na 18:30 en Die Manakwalanners speel weer voort. Ma begin nog ‘n teddiebeer. Kleinsus Antjie kry weer haar lê en Baba Bessie blaf sommer omdat sy lus is by die voordeur.

Daar is weer lig. Geen idee wat was die probleem nie. Gee ook nie om nie. Te dankbaar vir die lig en die wete dat ek nou-nou vir my lekker boeretroos kan gaan maak.

Maar ek wonder tog oor die kerse wat nou se dae so vinnig uitbrand? Miskien moet ek volgende keer sout probeer opgooi. Was dit nie ‘n boereraat van ouds vir die vryers en hul opsitkers nie?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button