Gys en Hester vier 70 geseënde jare saam
Buiten hul sterk liefdesband het die Wageners deur die jare ook verskeie ander belangstellings gedeel

VANDERBIJLPAK. – ‘n Liefde wat in die 1950’s begin het, blom steeds welig en op 18 Oktober kon Gys en Hester Wagener hul 70ste huweliksherdenking saam met familie en vriende vier.
Die egpaar is op 18 Oktober 1952 op Hester se 18de verjaarsdag in die Vereeniging Klipkerk in die huwelik bevestig. In Februarie 1954 verhuis hulle na Vanderbijlpark, waar hulle 32 jaar in Wagnerstraat en 23 jaar in Herfsoord gewoon het voordat hulle na Huis Siësta verhuis het.
Gys en Hester het onderskeidelik 35 en 20 jaar by die destydse Yskor gewerk totdat hulle met pensioen afgetree het.
Buiten hul sterk liefdesband het die Wageners deur die jare ook verskeie ander belangstellings gedeel en onder andere saam ringtennis gespeel en gereeld gekamp. Hulle kyk steeds graag saam sport op TV en is lief vir lees. Hulle hou ook daarvan om blokkiesraaisels in te vul en bou graag legkaarte.
In sy jonger dae het Gys graag staalwerk gedoen terwyl Hester se vingers altyd reggestaan het om te hekel.
Gys, nou 91, is nog gesond, maar nadat Hester, wat nou 88 is, se gesondheid agteruit begin gaan het, het hulle in September verlede jaar na Huis Siësta getrek.
Vier kinders, van wie twee op ‘n jong ouderdom oorlede is, is uit die huwelik gebore. Die Wageners is vandag baie trots op hul nageslag van vyf kleinkinders en nege agterkleinkinders.


