Kommer oor gereedheid van matrikulante
Die onderwysvakbond Naptosa sê hy is bekommerd oor die gereedheid van matrikulante wat more (Maandag 31 Oktober 2022) met hul nasionale seniorsetifikaat-eksamen begin.
Die uitvoerende hoof van Naptosa, Basil Manuel, het aan die SABC gesê die matriekgroep van 2022 is deur drie moeilike jare weens die Covid-19-pandemie.
Manuel meen leerders moes baie skoolwerk opvang en dat onderwysers en leerlinge uitgeput is.
Die regering en provinsiale departemente is egter vol vertroue dat alles vlot sal verloop.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysers Unie (Sadou) gevra dat beurtkrag afgeskaf word om die integriteit van die eksamen te verseker.
Sadou is bang dat beurtkrag ‘n negatiewe impak op die eksamen sal hê, tensy skole van beurtkrag kwytgeskeld word.
Eskom het intussen bevestig dat Fase 2-beurtkrag van 05:00 more oggend van krag sal wees en dat dit tot Dinsdagoggend 05:00 sal duur.
Fase-2-beurtkrag sal dan weer van Dinsdagmiddag 16:00 tot middernag en van Woensdagmiddag 16:00 tot middernag sal geld.
