Local newsNewsNews

Weerlig se werk: “Na teëspoed is Pa steeds ‘n inspirasie vir baie”

"Hy is so ontsettend dankbaar vir al die hulp wat hy na die brand uit die gemeenskap ontvang het, maar self vra hy nooit iets nie"

Vereeniging se mense is bekend daarvoor dat hulle saamstaan en mekaar in tye van teëspoed ondersteun. Dit was ook die geval toe verskeie terugslae Manie en Lisinda Kritzinger die afgelope jare getref het. Opstaan en herbou was nog altyd Manie se sleutelwoorde, maar hierdie keer is dit moeiliker…

Die Kritzingers was jare bekend vir hul klein sakeonderneming, Dairyvale Distributers in die stad, totdat die eerste teëspoed getref en hulle hul kontrak met Nestlé verloor het. Tot in daardie stadium was hulle selfonderhoudend en hul mooi grasdakhuis op hul hoewe Vyeboom in Houtkop, was hul trots.

In Augustus 2017 moes hulle weens die knypende ekonomie hul huisversekering kanselleer – net vier maande voordat weerlig hul huis op 6 Desember 2017 getref het. Buiten dat die huis afgebrand en hulle al hul huisinhoud verloor het, is die totale voorraad van hul nuwe tweedehandse winkeltjie, Granny’s Attic, ook vernietig. Die egpaar, wat voorheen so baie mense in nood gehelp het, het skielik self niks gehad nie.

Al het Manie toe nog nie geweet hoe of waarmee nie, het hy sy vrou belowe hy sou die huis eiehandig vir haar herbou. Bure, familie, vriende en die gemeenskap van Vereeniging het saamgespan en boumateriaal en ander noodsaaklikhede geskenk sodat hy die afgelope vyf jaar ‘n redelike gedeelte kon terugbou. Die egpaar was tevrede om in die halfgeboude huis te woon, hoewel baie materiaal nog nodig sou wees om die huis te voltooi en binne af te rond.

En toe tref nog ‘n terugslag: Lisinda word met kanker gediagnoseer en sy sterf in Junie vanjaar na ‘n siekbed van twee maande.

“My pa is met tye so hartseer omdat hy nie betyds vir haar teëls onder haar voete kon gee nie,” sê hul enigste kind, me. Anloëtte Grobler, wat in ‘n huisie op die hoewe woon. “My pa is ‘n inspirasie vir enigiemand wat net bakhand staan. Hy is so ontsettend dankbaar vir al die hulp wat hy na die brand uit die gemeenskap ontvang het, maar self vra hy nooit iets nie. Omdat dit nou weer amper Kersfees is, steek ek my trots in my sak en vra namens hom of daar dalk mense is wat boumateriaal of ander produkte wil skenk sodat hy die huis kan klaarmaak. Dit sal hom ‘n bietjie vreugde op sy oudag teruggee. My wens is dat daar net weer ‘n stukkie ‘normaal’ op Vyeboom sal wees,” sê Anloëtte, ‘n onderwyseres wat kunsklasse vir ‘n bykomende inkomste aanbied.

Enigiemand wat ‘n bydrae vir haar pa wil maak, kan haar kontak by anloette03@gmail.com of 076 269 5953.

 

Die brandende huis op 6 Desember 2017

 

 

Foto bo: Die halfvoltooide huis soos dit tans lyk.

Foto onder: Mnr. Manie Kritzinger

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button