Onse Dr Letitia ‘n Mrs Globe finalis
Letitia Swartz bekende veearts van Sasolburg het ‘n splinternuwe avontuur aangepak en hoop om eersdaags ‘n kroon te dra.
SASOLBURG. – Letitia Swartz is bekend as een van die Vaal se omgee veeartse. Sy is ook ‘n adrenalien ‘junkie’ wat van ekstreem sport hou, maar nou het sy haar in ‘n gans ander wêreld begewe.
Dié veearts is onlangs as een van 35 finaliste in die Mrs Globe South Africa-kompetisie aangewys. “Ek het myself nog nooit as een vir skoonheidskompetisies beskou nie, maar hierdie is die eerste jaar wat die kompetisie in Suid-Afrika aangebied word.

“Hulle skenk ook al die geld wat ingesamel word vir die B Loved Foundation. Dis ‘n organisasie wat verwaarloosde en mishandelde kinders en vroue help en hulle rehabiliteer om weer in die gemeenskap te kan aanpas,” vertel sy.
Sedert Letitia sowat twee maande gelede gehoor het dat sy ‘n finalis is, het sy agtergekom dat elkeen ‘n storie het.
“Ons gaan deur dinge in ons lewe sodat ons later ander kan help. Ek is op laerskool geboelie en vind dat ek juis die kinders kan help wat nou ook geboelie word.”
Sy sien baie uit na die kroningsaand wat op 12 November by die Maslow Hotel in Pretoria gaan plaasvind. “Elke finalis het ontwerpers wat alles vir ons ontwerp, van die swemklere tot die aanddrag,” beduie sy blinkoog.
Sy is ook dankbaar dat leiers in die industrie elke finalis bystaan en hulle meer leer van modelwerk en hoe om die paneelvrae te beantwoord.
“Dis besonders, nie een van die finaliste het ‘n model agtergrond nie. Elkeen het ‘n hart vir hul gemeenskap en wil ‘n verskil maak. Dis regtig ‘n wonderlike groep vroue bymekaar,” vertel sy entoesiasties.
Haar man en kinders ondersteun haar 100%. Klein Jurgens en Mia gee vir hul ma raad, want albei het darem al hul suksesse op die verhoog gehad. “Ek was ook verstom deur ons kliënte se ondersteuning. Niemand het vir my gelag nie.”

Dan begin sy lag. “Die dag wat hulle my gebel het om te sê ek is ‘n semifinalis, was ek besig om ‘n bok se sweer hier buite te dreineer. Dit was weer een van daai dae wat ek goed besmeer was en ek dink amper daar was nie eens tyd om my hare te kam nie.
“Wil die mense toe nou dadelik ‘n video hê waar ek meer oor myself moes vertel. Ek het die video gedoen en gedog ek gaan nooit weer van hulle hoor nie. Maar ‘n week daarna het ek die e-pos gekry dat ek ‘n finalis is.”
Letitia lag ook omdat sy die kompetisie met blonde hare aanvat. “Ek hou daarvan om kort-kort my haarkleur te verander en sowat agt maande gelede het ek dit blond laat tint. Wel, volgens die kompetisie se reëls mag ons nie enige drastiese veranderinge aanbring nie. Nou moet ek maar blond bly!”

Alhoewel sy erken dat sy heeltemal uit haar gemaksone is met die kompetisie, is sy baie bly sy het ingeskryf.
“Ons as ouers moet vir ons kinders wys dat mens enige iets kan doen waarop jy jou hart sit en soms behels dit om moeilike goed te doen om jou drome te kan bereik.”
