Historiese bord buite Vereeniging van stroping gered
Lede van die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk het Dinsdag (01 November 2022) gekeer dat 'n groot metaalbord, wat besoekers tot Vereeniging verwelkom, opgesaag, weggery en as skrootmetaal verkoop word.
VEREENIGING. – Die bord langs Boy Louw Straat by Steelpark is blykbaar in 1992 opgerig as deel van die stad se eeufeesvieringe en is een van talle soortgelyke borde wat by ingange van die stad gepronk het.
Volgens Okkie Jooste, ‘n lid van die Kultuurnetwerk, het ‘n parate inwoner Maandag in die verbyry gemerk dat die bord afgesaag is en langs die pad lê.
Sy het haar ma, ‘n lid van die Kultuurnetwerke in kennis gestel.
Lede van die Kultuurnetwerk was Maandagmiddag daar om die omvang van die skade te bepaal.
Nadat die nuus op Facebook versprei het, het Fanie de Jongh, ‘n plaaslike sakeman, aangebied om ‘n voertuig te stuur om die bord op te tel en dit na ‘n werkswinkel te neem vir herstelwerk.
Vaalweekblad weet waarheen die bord gevat is maar weerhou op versoek hierdie inligting sodat die mense wat dit wou steel nie weet waarheen dit geneem is nie.
Volgens Jooste het diewe sedert die ontdekking Maandag en die verwydering van die bord Dinsdagoggend na die toneel teruggekeer en van die letters afgesteel.
Sodra die bord gerestoureer is sal dit na ‘n erfenisterrein in Vereeniging geneem word waar dit bewaar sal word.
Daar word vermoed dat dit die werk van ‘n metaaldiefstalsindikaat is wat baie bedrywig in die Vaaldriehoek is.


