Rowers kies dié keer toe net duur parfuum
Die Polisie sou die skelms seker maklik kon "uitruik"!
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na interessante en uitsonderlike nuusgebeure wat deur die jare hier afgeseel het. Hier is een so ‘n ongewone voorval…
Rowers is daarvoor bekend dat hulle met geld, vuurwapens, voertuie of elektroniese toerusting wegkom, maar dis nie aldag dat hulle winkels se parfuumafdelings teiken nie.
Dit is wat in Oktober 2017 gebeur het, toe ‘n bende rowers met parfuum ter waarde van sowat R500 000 laat spaander het.
Die tien gewapende rowers het die betrokke oggend omstreeks 05:45 in drie verskillende voertuie by River Square in Drie Riviere opgedaag.
Een van die kontrakwerkers wat betrokke was by die opknappingswerk wat in daardie stadium by die sentrum gedoen is, is by uitgang 5 (die een by Ackermans) deur die mans oorrompel. Een van die sekuriteitswagte is ook deur die rowers oorval en saam met die kontrakwerker as gyselaars aangehou tot na die roof. ‘n Ander sekuriteitswag het weggehardloop toe hy sien wat gebeur.
Die rowers het die glasvenster van Truworths Elements gebreek en toegang tot die winkel gekry en het binne enkele minute met sakke vol parfuum op die vlug geslaan het. Op pad uit het hulle ook by Ackermans probeer inbreek, maar het skynbaar koue voete gekry en besluit om liewer te verkas.
Gelukkig is niemand beseer nie, en ‘n saak van besigheidsroof en opsetlike saakbeskadiging is geopen. Kapt. Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisie, het gesê die polisie se forensiese span sou die toneel vir vingerafdrukke en leidrade fynkam. Met die walms van soveel parfuum om hulle, sou dit seker nie te moeilik wees om die rowers “uit te ruik” nie, maar sover Vaalweekblad kon vasstel, is niemand ooit weens die voorval aangekeer nie.

