Vaal Kultuur Ambassadeur: Herman van Niekerk
Herman van Niekerk is onlangs as die Vaal se Ambassadeur vir Kultuur deur die sakekamer aangewys.
VANDERBIJLPARK. – Herman van Niekerk die dryfkrag agter die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg is aangewys as die Vaal se Ambassadeur van kultuur vir 2022.
Hy het die toekenning ontvang tydens ‘n spoggeleentheid van die Golden Triangle of Commerce (GTCoC) op Saterdag, 29 Oktober.
Die ERT het die afgelope paar jaar weer ongekende groei getoon met Herman wat moeite doen om net die beste vermaak na die Vaal te bring.
Deur sy toedoen word die Vaal se teatergangers gereeld bederf met opvoerings en uitvoerings wat gewoonlik net vir groot stede gereserveer is. Dit sluit optredes deur die Universiteitskoor van Stellenbosch, Stef Bos en Cape Town Opera in.

Onlangs het Mzansi Ballet hul befaamde The ABBA Show – A Cinderella Story voor ‘n bykans vol teater opgevoer.
Herman maak ook seker dat Shakespeare se voorgeskrewe werke elke jaar by die ERT opgevoer word. Vir plaaslike dansskole en groepe is die ERT van onskatbare waarde en word Sasolburg nou as die mekka van Spaansedanse in Suid-Afrika beskou.
Hierdie jaar kan daar nog uitgesien word na, onder andere ‘n uitvoering van die Rand Symphony Orchestra onder leiding van Carel Henn op 20 November, ‘n Christman Cracker, The Chantileer Singers met Richard Cock op 21 November en Annie, die musiekblyspel op 9 Desember.
Dit was juis deur Herman se toedoen dat Annie in die Vaaldriehoek opgevoer gaan word. Die hoofrol word deur Caitie Rock van Meyerton vertolk en die speelvlak het reeds in Pretoria en Johannesburg gesluit.
Herman het vasgebyt en die Pretoria Jeugteater oorreed om Annie vir ten minste een vertoning na die ERT te bring.
Die ERT is nou weer die bastion van kultuur in die Vaaldriehoek en verdien die toekenning deur en deur.
