Central South African Pageant se skitter eerste jaar
Die Central South African Pageant het 'n suksesvolle eerste jaar agter die rug met nog groter dinge wat vir volgende jaar beplan word!
VAALPARK. – Werner Volschenk, direkteur en medestigter van die Central South African Pageant (CSAP) het rede om trots te wees. Die pageant se eerste jaar is agter die rug en was ‘n groot sukses.

“Ons het die jaar baie geleer, maar is super opgewonde oor wat vir ons in 2023 voorlê,” vertel hy.
Waar die pageant hierdie jaar tot sentraal Suid-Afrika beperk was, sal dit volgende jaar oop wees vir inskrywings van reg oor die land.
Inskrywings vir volgende jaar se Emissaries (CSAP ambassadeurs) open reeds op 1 Desember. Hou gerus hul Facebookblad @Centralsouthafricanpageant dop vir meer inligting.
CSAP het hul 2022 jaar afgesluit met ‘nPageantweek. Al die finaliste het vanaf 3 tot 8 Oktober bymekaar gekom vir ‘n week gepak met repitisies, paneelonderhoude en selfs ‘n kamp.
Almal is op 3 Oktober na Maranaman on the Vaal waar daar aan verskeie spanbou aktiwiteite deelgeneem is.

Die ottergat was blykbaar ‘n treffer en almal was teen die einde van die dag goed vol modder. Met hul terugkomslag op 4 Oktober moes daar vir oulaas klere vir die groot gala-aande gepas word.
Werner sê Mr Pride, Milady’s en Queenspark in Riversquare, Drie Riviere het uit hul pad gegaan om te sorg dat elke finalis eksieperfeksie lyk vir die groot aande.
Na vele repetisies en senutergende onderhoude met die die beoordelaars, SJ Pretorius (Mr Teen World), Billy Brown, Yolane Pienaar en Michelle Blignaut (Mev. Gauteng) het die gala-aande uiteindelik aangebreek.

Op Vrydag, 7 Oktober het die finaliste in die Junior-afdeling hul talente op die loopplank ten toon gestel en op Saterdag, 7 Oktober was dit die Senior finaliste se beurt.
Werner sê die beoordelaars het veral gekyk of elke finalis se persoonlikheid op die verhoog tot sy reg kom en of die agtergrondmusiek en items by hul persoonlikhede pas.
Die hooftitelhouers vir CSAP 2022 is:
Mr Pre-Teen: Alru van der Merwe, Miss Pre-Teen: Kaley van Greune, Mr Teen: Michael Walters, Miss Teen: Alicia Warburton, Mr CSAP: Liam van Vuuren, Miss SCAP: Valencia Dlamini en Mrs CSAP: Lettie Botha.
“Ek is trots op elkeen van die finaliste en titelhouers. Ons is soos ‘n familie. Almal ondersteun mekaar en as een aan iets gaan deelneem klink dit soos ‘rent a crowd’ soos ons tekere gaan,” lag Werner.
SCAP gaan ook in die vervolg hul steun toespits om geestesgesondheid onder mans te bevorder.
“Ons het reeds ‘n geregistreerde niewinsgewende organisasie en rekening onder die CSAP se naam. Die nuwe inisiatief gaan Warriors heet en ons beplan onder andere ‘n klerereeks onder die vaandel.
“Dis tyd dat daar ook aan mans se geestesgesondheid aandag gegee word. Baie sukkel met depressie, selfmoordneigings en ander probleme, maar wil nie daaroor praat nie.
“Ons wil ‘n groter bewusmaking skep en vir die manne sê dis okay om nie okay te wees nie. Vra hulp, dis die regte ding om te doen.”
