Kom kuier op 12 November by gewilde Goeiehoek-boeremark!
Soos altyd gaan die boeregemeenskap van Goeiehoek sorg dat daar genoeg vakansie- en Kerslekkernye te koop sal wees om jou vrieskas, spensrak en koekblikke vol te maak
Die gewilde Goeiehoek-kontreimark se laaste markdag van die jaar vind Saterdag, 12 November, van 08:30 tot 13:00 plaas.
Al die stalletjies is volbespreek, waar 180 uitstallers hul ware in die gesellige atmosfeer op die plaas Bosrand gaan vertoon. Mev. Annatjie du Toit, die organiseerder, gee die versekering dat jy al jou gesinslede – van oupa en ouma tot by die kleingoed, Wagter en Kiets – se Kersgeskenke hier sal kan koop.
Soos altyd gaan die boeregemeenskap van Goeiehoek sorg dat daar genoeg vakansie- en Kerslekkernye te koop sal wees om jou vrieskas, spensrak en koekblikke vol te maak – alles teen baie billike pryse. Nog ‘n bonus is dat die huis, klerekas en tuin ook vir die Kersseisoen opgekikker kan word met unieke ware wat die uitstallers hier gaan aanbied.
Tradisionele geregte soos gebakte skaapkop gaan ook weer aangebied word maar is slegs op voorafbestelling beskikbaar. Skakel Basie by 082 901 5727 of Mariëtte by 083 225 6901 om te bestel.
Daar is nie ‘n outomatiese tellermasjien op die plaas nie, maar heelwat uitstallers het wel kaartfasiliteite. Dit sal egter raadsaam wees om genoeg kontant vir al jou aankope saam te bring. Aangesien die plaas en uitstalterrein groot is, word besoekers daaraan herinner om gemaklike stapskoene en ‘n hoed te dra, en ‘n koelhouer saam te bring as jy beplan om bederfbare goedere te koop.
Uit dankbaarheid vir ‘n goeie, geseënde jaar, wil die Goeiehoek Kontreimark uitreik na Galaxy Children’s Village. Dit is ‘n nabygeleë kinderhuis op ‘n Mooilande-hoewe. Daar versorg Theresia van Eyssen met groot liefde 12 sorgbehoewende kinders. Die kinders is nie noodwendig weeskinders nie, maar kinders wie se huislike omstandighede van so ‘n aard is dat hulle nie tuis versorg kan word nie.
Goeiehoek Kontreimark wil graag ‘n kontantbydrae aan hulle gee, so kort voor Kersfees.
As jy belangstel om betrokke te raak, is daar twee opsies:
Skenk ‘n vrywillige ingangsfooi van enige bedrag van jou keuse by die hek, of koop ‘n kaartjie teen R15 waarmee jy ‘n geslagte varkie van ongeveer 30kg kan wen. Die prystrekking vind om 12:00 op 12 November by die kontreimark plaas.
Kaartjies kan op die terrein gekoop word by Thelma, of skakel Annatjie by 083 541 9908 om jou kaartjies te koop.
* Roeteaanwysings: Die Goeiehoek Kontreimark word op die plaas Bosrand in die Midvaalgebied gehou, sowat 12 kilometer vanaf 4Way Motors in Drie Riviere. Padaanwysings: Neem die R42-roete van Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting.
