Madame Hettie en haar ma het verskeie tragedies voorspel
So het Madame Rose byvoorbeeld die dood van dr. Hendrik Verwoerd, dr. Eben Dönges en die Amerikaanse senator Robert Kennedy voorspel.

Wyle mev. Hettie van der Walt, beter bekend as Madame Hettie die toekomsvoorspeller, was een van Vereeniging se kleurryke karakters wat nog jare na haar dood deur baie van die stad se ouer inwoners onthou word.
Hoewel waarsêery as ‘n heidense praktyk deur Christene beskou word, het Madame Hettie dit altyd beklemtoon dat haar vermoë om die toekoms te voorspel, ‘n Goddelike gawe was soos dié van die Bybelse Josef.
Sy het onder andere die ramp waarin 23 kinders in 1970 by die Highbury-oorgang naby Meyerton gesterf het toe hul skoolbus deur ‘n trein getref is, voorspel. In later jare het sy Nelson Mandela se vrylating uit die tronk en sy presidentskap raak voorspel. So het sy in die jaar 2000 ook in ‘n droom gesien dat die komediant Tolla van der Merwe gaan sterf, twee weke voordat hy in ‘n karongeluk in Mpumalanga beswyk het.
Talle mense het deur die jare van oral uit Suid-Afrika na Vereeniging gekom vir ‘n afspraak met Madame Hettie om uit te vind wat die toekoms vir hulle inhou.
In Desember 2001 het sy ‘n ligte beroerte gehad, waarna haar gesondheid vinnig agteruit gegaan het. Sy het in Maart 2002 in die ouderdom van 79 in haar slaap by haar huis in Duncanville gesterf.
Madame Hettie was nie die enigste lid van haar familie wat toekomsvoorspellings kon doen nie. Haar ma, Madame Rose, wat ook in Vereeniging gewoon het, het al vanaf die ouderdom van 7 jaar besef dat sy opspraakwekkende gebeure in haar gedagtes kon “sien” voordat dit werklik plaasgevind het.
So het Madame Rose byvoorbeeld die dood van dr. Hendrik Verwoerd, dr. Eben Dönges en die Amerikaanse senator Robert Kennedy voorspel.
Sy het ook die lugramp van 20 April 1968, toe ‘n Boeing van die Suid-Afrikaanse Lugdiens naby Windhoek geval het, vooraf “gesien”. Al 123 passasiers en bemanningslede van die vliegtuig het in die ramp gesterf.
Madame Hettie het in die 1990’s aan Vaalweekblad gesê dat haar seun Floris van der Walt en dogter Martha van Eden ook die familie se “gawe” ontvang het om die toekoms te kan voorspel.

