Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Goeiste mensekinners, die week wonder ek wat van myse Mich se een magneetplakkaat geword het en dan was ek so byna gestrand in die die middedorp!
RUBRIEK. – Kyk, in my lewe het ek nou al baie goed beleef. So het ek al verskeie kere onder diefstal deurgeloop.
Dit sluit alles in van my geliefde eerste motor, ‘n rooi en with Duitsertjie vernoem na Shaun Pollock, tot by selfone en beursies. Was alles lange jare terug in Pretoria.
Maar Saterdagaand was my skok groot toe ek na ‘n funksie by my Mich opdaag en besef die Vaalweekblad magneetplakkaat aan die passasierskant is weg.
Wie op dees aarde steel ‘n motormagneet waarop staan Vaalweekblad.com en wat wil hulle daarmee maak? Regtig. Dit was nou sommer laeklas.
My arme Mich lyk nou heel ongebalanseerd met net die plakker aan die een kant. Indien iemand so ‘n motorplakaatmagneet êrens sien, kontak my asseblief.
Ek sal dankbaar wees om dit terug te kry en mag die Red Ants die skuldige party se krag afsny. (Ek is regtig vies daaroor!)
So van myse Mich gepraat… In die week moet ek Ma na die munisipale kantore neem (kliëntedienssentrum noem hulle dit. Goeie verbeelding wat die mense het!).
Daar is geen parkering voor die gebou nie, maar ek kry darem ‘n parallel parkering ‘n ent verder aan. Alles gaan goed. Ek braai in die motor, geen mens kan mos waag om ‘n venster oop te maak nie, vir ‘n uur of wat totdat Ma terug is.
Dis toe ek die koppelaar intrap om Mich aan te sluit wat ek net ‘n klik, klik hoor. “Probeer weer” sê Ma. Selfde resultate.
“Dis die battery” sê ek.
“Jy trap nie diep genoeg nie,” reken Ma. Ek trap weer, draai die sleutel. Niks.
onthou daar is ‘n batteryplek wat haar verlede jaar gehelp het nie ver van ons af nie. Sluit die motor en vat die pad.
Batteryplek sit naby die polisiestasie. Stap in. Jongman en meisie agter die toonbank. Staan nie eens op nie. Nee, hulle kan nie help nie.
Hy kan nie die meisie alleen by die winkel los nie, sy is nog nuut. Ek moet net die motor bring, dan kan hy dalk help.
Behoede my, wat van my motor staan in die hoofstraat en ek kan dit nie aansit nie. Verstaan hy nie?
Ons stap aan. Twee winkels verder is nog ‘n battery plek. Ek beteuel my Bruinette humeur en stap in. Vanuit die een hoek vlieg ‘n man dadelik op. Kom nader met ‘n groot glimlag.
“I’m Joseph, how can I help?” Ek en Ma beduie so op ‘n mengsel van Afrikaans en Engels die probleem.
“No problem,” sê hy en gryp ‘n battery en ‘n paar ‘jumper’ kabels. “Short cut, this way” beduie hy en so loop ons en gesels tot by Mich. Joseph kla nie ‘n enkele keer oor hy so swaar moet dra nie.
Kabels skaars opgesit toe begin myse Mich se hart weer klop.
Wat kos dit?” vra ek.
“Call out fee, R20” sê Joseph.
“Ek sal gaan geld trek” sê Ma, want ons is al weer sonder kontant.
Joseph keer dadelik. “I will tell them I had to help Ouma. No need to walk all the way for R20.”
Met ‘n breë glimlag is hy daar weg.
Later die dag gaan trek ons wel geld en vat vir hom die R20. Die oomblik toe ek instap spring hy weer regop met ‘n groot glimlag.
“I came to pay the money I owe you,” sê ek. Die man is so verbaas, hy gee my sommer ‘n drukkie. Sy glimlag breed.
Dis nou wat ek diens noem. Raai na wie toe sal ek gaan as ek Mich se battery binnekort moet vervang…
Die ander plek met sy twee Afrikaanse jongelinge wat nie eens vir ‘n kliënt kan opstaan nie, sien my nooit weer nie. Sela!
