Local newsNewsNews

Anke – ‘n Onverskrokke vegter met ‘n sagte hart

Ons maak kennis met die onverskrokke Anke Van der Schyff een van ERPA se stigters. Dan is sy ook bekend vir haar uitstekende fotografie van veral pasgebore babas.

VANDERBIJLPARK. – Anke van der Schyff is ‘n vrou van vele kreatiewe talente. ‘n Doener wat haar deur niks laat onderkry nie.

Sy het altyd ‘n plan of twee en gryp elke kans met oorgawe aan. Uitdagings is haar kos en vir ‘n avontuur sê sy nooit nee nie.

Tipies fotograaf, voel sy meer tuis agter die kamera as voor die lens. Foto’s: Verskaf

Die enkelma van drie dogters borrel van lewenslus en is op verskeie vlakke in die gemeenskap betrokke. Alhoewel sy bekend is as fotograaf, is sy ook kleremaker, skrywer, digter en skilder.

Op haar dag het sy selfs ‘n weeklikse radioprogram vir ‘n radiostasie in Parys aangebied en dan was sy al ‘n ekstra in ‘n rolprent. “Iemand het op Facebook gevra hulle soek ekstras vir die rolprent, Sing, en toe steek ek hand op.

Man, dit was nou ‘n belewenis. Ons het die hele nag geskiet en ek het baie geleer. Dis mos vir my lekker om nuwe dinge te leer,” vertel sy vrolik.

Anke het in Sasolburg grootgeword en aan die Hoërskool Sasolburg gematrikuleer. Daarna het die lewe haar na onder meer Rustenburg en Port Elizabeth geneem, maar nou woon sy al etlike jare in Vanderbijlpark.

Anke het hierdie skildery gemaak tydens ‘n kunsklas. Net die gesig is met ‘n kwas geverf, die res is met haar ongebruikte ‘gymkaart’ gedoen.

Hier het sy haar hart aan die gemeenskap gegee. Sy onthou hoe sy op ‘n stadium bang gevoel het in haar huis.

“Ek het gedink wie sal ek nou bel as hier iemand inbreek?” Dis toe dat sy ‘n WhatsApp groep begin het wat kort voor lank in ‘n volwaardige buurtwag ontaard het.

“Ek sê altyd dit help nie ‘n mens kla net nie, jy moet doen ook. En as ek dit nie doen nie, wie gaan dit doen?” Dit is ook hoe sy by Emfuleni Rate Payers’ Association (ERPA) betrokke geraak het. Sy was een van die stigterslede en dien vandag nog in die komitee.

“Mense weet nie altyd waarmee ons besig is nie. Ons baklei maar so behind the scenes,” beduie sy.
Anke erken sy is baie uitgesproke en bly nie stil as daar gepraat moet word nie.

“Ek was nog altyd lief vir mense. My hart is my grootste blessing en my grootste curse,” lag sy. Dan raak sy ernstig.

“My grootste droom is om mense te help om deur trauma te werk. Veral die wat emosioneel en fisies afgebreek is deur ‘n narsis in hul lewe. Ek gaan nog ‘n Life Coach word,” sê sy.

Anke teken alles in detail. Hierdie tekening van Bob Marley was haar meersterstuk, maar het ongelukkig verlore geraak. Foto: verskaf

Tans is sy eintlik voltyds fotograaf. Alhoewel sy alle fotografie geniet, het sy ‘n groot passie om pasgebore babas en kinders af te neem. “My kliënte noem my die baby whisperer,” lag sy lekker.

Anke is wyd bekend vir haar besonderse foto’s wat sy van die baie jong babas neem. Met elkeen doen sy moeite en gee haar kreatiwiteit vrye teuels. Deur die jare het sy geleer om haar nie deur kritiek te laat onderkry nie. Vir haar ouers se leiding is sy baie dankbaar.

“My ma het my geleer om nooit op te gee nie en my pa het ons algemene kennis verbreed. Hy het ons altyd oral saamgeneem en dinge laat ervaar, soos om kreef op die strand te eet,” onthou sy.

Selfs nie die pandemie kon haar onderkry nie. As fotograaf kon sy nie tydens die grendelstaat werk nie, maar sy het dadelik ander planne beraam en begin om leerskoentjies/vellies en kruisbande vir pasgebore babas te maak!

So maak Anke ‘n plan met elke situasie. Eerlikheid en opregtheid is vir haar baie belangrik en as sy haar kreatiewe werk (dis nou alles van fotografie, tot by skryf en teken) moet opsom, dan is dit om in elke stuk emosie vas te vang en uit te beeld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button