Oom Joe Viljoen se hart klop sport
Oom Joe Viljoen se naam is al 43 jaar sinoniem met die Vereeniging Sportklub. Nou het hy uitgetree, maar sy nalatanskap by die klub leef voort.
VEREENIGING. – Sedert die ontstaan van die Vereeniging Sportklub was die naam Joe Viljoen sinoniem met die klub se doen en late.
Oom Joe, soos hy oral bekend is, het onlangs, na 43 jaar as komiteelid, uitgetree. Hy was ook vir jare president van die klub.

Hy woon al sedert hy 13 jaar oud is in Vereeniging. Hy het sy laerskooljare in Johannesburg deurgebring en het in 1963 aan die Vereeniging Tegniese Skool matriek geskryf.
Daarna is hy weermag toe, alvorens hy homself in die kleinhandelbedryf gevestig het. Deur die jare was hy hoofbestuurder by RW Tools en later besturende direkteur by Mitco Tools, voordat hy sy eie besigheid, PMA gestig het.
Hy het die besigheid in 2019 verkoop en hy help tans sy dogter, Petru Vijoen, in haar sportwinkel.
Alhoewel Joe sy werk geniet het, was sy hart maar altyd by sport.
Hy het op sy dag ook krieket en rugby gespeel. In 1963 was hy een van net twee spelers wat in dieselfde jaar gekies is om vir die destydse Transvaal Skole rugby- en krieketspan te speel.
“Ek het ook op ‘n stadium as slot vir die Transvaal o.20 span uitgedraf. Daardie jare was ‘n drie net drie punte en ek hou steeds die rekord vir die 95 punte wat ek aangeteken het,” onthou hy met ‘n glimlag.
Hy onthou ook die jaar wat hy deel was van die Internasionale Kwaggaspan saam met bekende name soos Piet Visagie en Jannie Engelbrecht wat onder meer in Rhodesië gaan speel het.

Naas rugby het hy ook vir jare vir plaaslike klubs krieket gespeel. Joe is steeds trots op alles wat die Vereeniging Sportklub sedert 1979 bereik het.
Die klub se mure is omskep in ‘n museum met onvervangbare foto’s en truie van die Vaal se goue seuns en dogters, van die middelafstandatleet, Johan Fourie tot by Francois Pienaar, wyle Ertjies Bezuidenhout en Tertius Bosch.
Joe ken byna elke foto se geskiedenis en gesels lekker oor elke legende se sportprestasies.
Wys ook trots die klomp trofeë in die vertoonkas. Die oudste onder hulle is ‘n skild wat Vereeniging Krieketklub hul eie gemaak het in 1951.
“Hierdie is my tweede huis,” vertel hy terwyl hy voor sy foto’s in die klubhuis staan. “Ek het al gedreig om van die foto’s af te haal,” lag hy, en beduie na die een waar hy as jongman teen die muur pryk.
Tydens die onderhoud storm die jongman wat buite besig was om die veld te sny, gou in om te groet.
“Dis Jacques Boss. Hy is ‘n kranige krieketspeler. Ek het baie kontakte deur die jare opgebou en hy het onlangs in Engeland gespeel. Nou kyk ek of ek nie vir hom iets kan reël in Nieu-Seeland nie.”
Dis een van Joe se grootste vreugdes in die lewe, om jongmense met potensiaal raak te sien en hulle te mentor. “Ek wil ook vir die gemeenskap geleenthede skep, dis hoekom die sportklub hier is,” vertel hy.
Na al die jare is hy dankbaar vir die groot vriendekring wat hy opgebou het. “Dis hartseer dat so baie van ons sportlui en my vorige spanmaats ons al ontval het, maar ek is dankbaar om nog met so baie kontak te hê.
“Ek is ook dankbaar vir die talente wat ons Hemelse Vader my gegee het,” vertel hy op sy rustige manier.
In ‘n boodskap aan die Vereeniging Sportklublede het hy onder andere geskryf: “Dit is nou met trots, blydskap en ‘n bietjie heimwee in my hart oor pragtige en roemryke herinneringe dat my tyd gekom het om te gaan.
“Ek sal met belangstelling die klub se vordering dophou. Met waardering vir ‘n wonderlike 43 jaar se ervarings neem ek afskeid.”