Twee grootoog hartediewe
Geniet die storie van die twee uiltjies wat op Yvette Wilde se kleinhoewe uitgebroei het, tot groot ontsteltenis van die ganse en met baie drama tot gevolg op die andersins stil werf vir afgetrede diere.
MEYERTON. – Die Be My Guest Retirement Yard spog met twee grootoog jongelinge genaamd Briony en Keagan. Die twee Gevlekte Ooruiltjies het ‘n paar maande gelede hoog in een van die bloekombome uitgebroei.
Yvette Wilde eienaar van dié diere aftreeoord sê dit het alles begin toe die Owl Rescue Centre op 1 Mei 2021 ‘n uilhuis ongeveer 6m hoog in een van die bloekombome geplaas het.
Daarna het die groot wag begin, maar vir langer as ‘n jaar was die enigste inwoners ‘n paar duiwe.
Alles het egter in Augustus vanjaar verander toe van haar werkers haar opgewonde kom vertel het daar is uile in die uilhuis!

Dit blyk toe dat twee Gevlekte Ooruile (Spotted Eagle Owls) hul intrek geneem het. Operasie uile dophou het amptelik begin.
Yvette-hulle het geweet daar behoort twee eiers in die nes te wees en dat die wyfie nie die nes sal verlaat nie, terwyl die mannetjie in die nag gejag het om vir die wyfie kos te bring. Al die wag het uiteindelik vrugte afgewerp.
Teen einde September is een van die baba uile gewaar waar hy soos ‘n wafferse koninklike van die balkon af na benede geloer het.
“Die baba uil het ‘n baie ligte gesiggie gehad. Ons het geweet dis ‘n mannetjie, en dat hy een of ander tyd uit die nes moet val. Ek was so op my senuwees. Ons twee ganse is nie van die vriendelikste nie en hul bad staan reg onder die uil-boom.
“Ek was so bang die uil val in die bad en verdrink of dat die ganse hom gaan doodpik. En dan was daar nog ons elektriese heining en al die honde ook,” vertel Yvette. Dis toe dat sy weer die Owl Rescue Centre skakel.

Die kenners het haar verseker dat die uile-ouers nie hul baba onder hul oë sal laat uitgaan nie, maar Yvette het net om seker te maak gesorg dat sy die gebied afkamp sodat niks die jonge uil se eerste kennismaking met moederaarde sal hinder nie.
‘n Dag later, op 12 Oktober het die jongeling dan ook sy eerste verkenningstog meegemaak. Op daardie stadium was die tweede uiltjie steeds bo in die boom en die uile-ouers het skielik hul vlerke vol gehad om albei babas gevoer en gelukkig te hou.
Die ganse was bitter ontevrede want hulle is bad en al na die agterplaas geskuif waar hul, hul frustrasie op alles wat beweeg uitgehaal het.
Op 13 Oktober het daar groot konsternasie uitgebreek toe die kleine uil skielik nêrens te vinde was nie. Almal was onder verdenking van die honde tot by die perde, maar ieder het onskuldig gepleit.
Yvette het hom later opgespoor in ‘n afgesonderde area op die plot wat ma-uil uitgesoek het om haar kinders verder groot te maak.
Intussen het sy sussie bietjie gesukkel om uit die nes te kom. Sy is menigmaal gesien waar sy op die kant van die uilhuisie staan, gereed om te val en dan daarteen besluit en weer ingaan.
Twee weke na haar avontuurlistige boetie het sy ook die groot tree gegee en veilig met moederaarde kennis gemaak.
Teen einde Oktober het die uil-gesin goed aangegaan in hul nuwe woonarea en die vrede is soortvan op die plot herstel nadat die ganse weer na hul oorspronklike tuiste onder die boom kon verhuis.
