Local newsNewsNews

Tafelberg brand, MS-lyer gered

Lees saam hoe Rozaan Steyn se uitstappie na Tafelberg in ‘n groot avontuur ontaard het nadat ‘n brand op die berg uitgebreek het.

SASOLBURG. – Rozaan Steyn ‘n MS-lyer van die dorp het maande geoefen om Tafelberg Saterdag, 29 Oktober uit te stap. Sy het dit gedoen om mense van die siekte bewus te maak.

Gewapen met haar wandelstok Freddie en loper Saartjie het Rozaan en ‘n groep van 22 vrywilligers met hul staptog begin.

Rozaan saam met haar ouers, Ansie en Steyn, net voor die staptog begin het.

“Ons het om 07:00 met die roete begin. Plek-plek was dit maar moeilik met die klippe ver uitmekaar. Gelukkig was daar baie helpers wat my gestoot en getrek het en by tye is ek op my sitvlak by ‘n klip uit,” vertel sy.

Die ondersteuning wat hul van verbygangers gekry het was ook ongelooflik en alhoewel sy kort-kort haar bene moes rus, het dit goed afgeloop. Die plan was om op te loop en dan met die kabelkarretjie af te ry.

Alles werk nie altyd uit soos wat mens beplan nie. Hulle was so tussen 300 en 500m van bo af toe die tyding kom, hulle kan nie verder op nie, die berg brand. Hulle sou die terugtog af moes loop.

“My bene was op daardie stadium baie moeg en seer en ek het besef ek gaan nie kan loop nie,” onthou sy. Gelukkig het iemand die Search & Rescue eenheid geskakel.

Dit was ‘n langpad, maar sy het baie ondersteuning van vriende en familie gehad

Hulle het dadelik begin planne beraam om Rozaan veilig van die berg af te kry. Eers het hulle gereken hulle kon met ‘n draagbaar van bo af haar kom haal, maar die brand het die pad versper.
Toe het hulle gedink hulle kon hul haar van onder af bereik. Die tyd het hul egter ingehaal.

“Ek kon die hitte voel en mens kon hoor hoe brand die gras,” onthou sy. Daar is toe besluit om ‘n helikopter te stuur.

“Ek ly aan hoogtevrees, maar daar was nie tyd om daaraan te dink nie. Hulle het ons laat weet om alles wat los was vas te maak en my aangeraai om aan iets vas te hou. Hulle was bang ek waai van die berg af as die helikopter nader kom. Daar is oral draad oor die klippe gespan en ek het aan die draad vasgehou,” vertel sy.

Dit was eers toe een van die reddingsmanne by haar kom en wou weet of sy bang is die klippe rol by die berg af dat sy die draad so vasklou, dat sy laat los het en besef het die drade het al merke op haar hande gemaak.

Rozaan is toe met ‘n kabel in die lug opgehys tot binne die helikopter. “Ek het so gegil, maar hulle het my verseker die kabel sal hou. Die reddingspersoneel was baie bekwaam en het presies geweet hoe om met ‘n MS-pasiënt te werk. Kyk, na dese is ek sommer genees van my hoogtevrees ook!”

Terug op moederaarde het ‘n ambulans en paramedici haar ingewag en seker gemaak sy is okay, alvorens ‘n motor van die verkeersafdeling haar geneem het na waar haar ouers en die res van die groep gewag het.

Rozaan wys sy is okay nadat sy per helikopter van die berg gehaal is.

Almal was al goed moeg na al die opwinding, maar het gelukkig net blou kolle, skrape en stywe spiere oorgehou van hul avontuur.

Rozaan se storie het soos die vuur op die berg versprei en vroeg Maandagoggend is sy al genader deur Radio Kansel vir ‘n onderhoud en Vrydag kon sy ook haar storie op ‘n plaaslike radiostasie vertel.

“Ek doen dit alles vir MS-bewusmaking en om hoop vir ander MS-lyers te bring.” Elke tree wat sy gee is in geloof.

‘n Mens sou dink sy gaan dit vir eers rustig vat, maar sy het Saterdag al weer geoefen, want 12 November gaan sy die Summer Race aandurf!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button