Local newsNewsNews

Die Vaal loop deur onder storm en sterk wind

Die Vaaldriehoek se lente het met ' n droë September en Oktober begin, maar sedert einde Oktober kry ons weer lekker reën.

Verskeie dele van die Vaaldriehoek het die nag van 27 Oktober onder hewige wind en ‘n donderstorm deurgeloop, wat plek-plek groot skade aangerig het.
Die storm het gevolg nadat die SA Weerdiens (SAWS) verlede week ‘n geel Vlak 2-waarskuwing uitereik het vir verwagte ontwrigtende reën, wat tot oorstromings van laagliggende informele nedersettings en laagliggende paaie langs die platorand kon lei.

Heelwat reën, wat met hewige wind gepaard gegaan het, het onder meer in die suide van Gauteng, insluitend die Vaaldriehoek, die Hoëveld van Mpumalanga, die gebied langs die platorand en die Laeveld van Limpopo voorgekom.

Hoewel reënval in die Vaaldriehoek nie baie swaar was tydens die storm nie, het verskeie inwoners van Drie Riviere en Vanderbijlpark se CW-areas, die S-areas en die hoewegebiede buite die dorp, stormskade in hul omgewings gerapporteer. ‘n Maksimum van sowat 22 mm reënval is aangeteken.

Renet Stewart het laat weet dat ‘n groot boom op hul hoewe by Vaalview uit die aarde geruk is. Nekita Drotsky, ook van die hoewegemeenskap buite Vanderbijlpark, sê sy het gedink hul huis gaan wegwaai. “Ek was ook bang ek styg met huis en al op,” het Elize Hayes bygevoeg. Volgens Nathacha de Beer is groot skade in haar ouers se erf in CW5 aangerig nadat takke van ‘n groot boom deur die wind afgeskeur is en in hul erf beland het.

Die gewilde kinderspeelplek, Little Kingdom op die Theoville-hoewes, het ook skade aan van hul afdakke en speelapparaat gehad, maar dit is die volgende dag vinnig deur die personeel herstel.

Groot bome in Vanderbijlpark is plek-plek uit die grond geruk en het die volgende oggend dwars oor verskeie paaie in die dorp gelê. Talle inwoners het ook foto’s van beskadigde heinings waar boomtakke dit stukkend geval het, op Facebook geplaas.

Sommige aangrensende dorpe het ook onder ‘n sterk wind deurgeloop maar skynbaar is geen ernstige skade daar veroorsaak nie. Santa Haye van Henley-on-Klip sê daar was ‘n hewige wind en storm in hulle woongebied, maar geen skade is aangemeld nie. Dupie du Plessis van Parys sê dié dorp het ook ‘n kwaai wind en storm beleef, maar ook hier is geen groot skade gerapporteer nie.

Verskeie inwoners van Vanderbijlpark het op Facebook verwys na die talle groot, ou bome wat op munisipale terrein staan en ‘n gevaar vir die publiek inhou. Sommige van die bome wat in parke of op sypaadjies staan, is al jare lank dood en kan maklik deur sterk wind omgewaai word, waarsku inwoners. Hulle het op Facebook ‘n beroep op die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gedoen om ou bome op munisipale terrein wat reeds dood is of waarvan die stamme opsigtelik deur plantsiektes verswak is, te identifiseer en te verwyder voordat dit tot ‘n tragedie lei.

* Verskeie gebiede in die Vaaldriehoek het die eerste week van November nog lekker reën gekry, maar gelukkig het dit nie weer met sterk wind of swaar weer gepaard gegaan nie.

 

Rochelle Groenewald het die oggend na die storm dié foto van windskade in Drie Riviere geneem.

 

Een van die bome wat omgewaai is en dwars oor die pad in ‘n Vanderbijlparkse straat gelê het. Foto: Will VD

June Harmse van Vanderbijlpark het dié treffende foto van die aankomende storm gedurende die nag van 27 Oktober geneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button