Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Te veel van 'n goeie ding is nie goed nie... Aldus die vorige geslagte. Is baie waar, 'n mens kan uitbrand al geniet jy elke oomblik van jou werk.

RUBRIEK. – Wat gebeur as mens jou Ferarri-brein soos ‘n 4×4 ry? Hy brand uit. Vra my, ek weet. Dink nog ek jaag lekker deur hordes stories en onderhoude per week, toe begin my lyf vir my waarskuwingstekens skree.

Maar hoekom sal ek nou luister? Net gou nog die een storie doen en daardie onderhoud reël en as ek nie deur die dag by skryf uitkom nie, man, dan skryf ek sommer in die aand voor die TV.

Lekker man. En toe daardie toekenning in my skoot val, toe skakel ek sommer oor na nog ‘n hoër rat en spin vermakering om die draaie.

Ignoreer die spelfoute wat begin insluip. Ignoreer die hoofpyne waarmee ek elke dag opstaan. Die nagmerries wat elke nag al hoe erger word. In my agterkop is daar die wete dat dit ‘n vorige keer ook gebeur het. Dat ek dit toe ook geïgnoreer het, maar ek oortuig myself die keer is dit anders.

Toe het ek hard gewerk, maar ek het my werk gehaat. Nou is ek gek oor my werk. Ek geniet elke storie wat ek skryf. Ek wil skryf!

Laas keer kon ek later glad nie meer in kleur sien nie. Alles het begin lyk soos die outydse sepia foto’s. Ek kan mos nog kleure sien, maak ek seker toe ek so op ‘n drafstap na my motor toe die tuin beloer.
Laas het ek in ‘n psigiatriese saal beland. Vir twee dae… Ek wil nie weer daar gaan nie.

Ek is okay, besluit ek, en reël sommer ses groot onderhoude oor drie dae. Ek het nie by een van hulle uitgekom nie…

Die keerpunt het gekom toe ek skielik twee ure van ‘n Woensdagoggend nie kan onthou nie. Ergste was, ek het bestuur. Ma was by my, sy sê dit het gelyk asof ek in ‘n beswyming was.

Sy sê ek het roekeloos bestuur. Sy sê ek het geld getrek en vir haar gegee om elektrisiteit te koop. Ek kan niks daarvan onthou nie.

Die sielkundige het kop geskud en na die afboeksertifikaat gegryp. My dokter het kop geskud en my verbied om naby my rekenaar te gaan. Ek het dit reggekry vir vier dae. Vier dae sonder skryf. Eish.

Ek het twee boeke verslind. Wol gaan koop en weer begin hekel. Saterdagmiddag by Liewe Vriend gaan draai en stadig gevoel hoe die hoofpyn tog begin skiet gee.

‘n Draai by die winkel put my uit. Waar vreemde mense my gewoonlik energie gee, tap dit my nou leeg. Uitbranding. Maar, daar is hoop. Daar is altyd hoop.

Net weer balans vind. Tree vir tree. Aangaan.

Die jaar is nog nie verby nie. Stukkie vir stukkie, in ‘n stadige eerste rat, sal ek my weg uit die 4×4 modder vind en weer op die snelweg beland.

Hoekom deel ek dit? Want daar is te veel mense wat net stilbly. Te veel mense wat oorlogte in hul eie kop baklei en nooit daaroor praat nie, want hulle is bang vir wat die mense gaan sê.

Te veel mense wat te maklik benamings rondgooi van siektes waarvan hul geen idee het nie, of waarvan hul ‘n skewe beeld in ‘n TV-reeks of film gekry het.

Weet net, uitbranding, depressie, bipolêre versteuring 1 en 2, post traumatiese stres sindroom, post traumatiese Covid-sindroom en nog vele ander is siektes, soos wat hoë bloeddruk, diabetes en kanker siektes is.

Hoekom het almal simpatie met ‘n kankerpasiënt, maar iemand met depressie moet hom of haarself net “regruk”? ‘n Stryd in jou kop, is van die moeilikste goed om dag tot dag mee saam te leef.

En ja, selfs as ek op hoë spoed stories uitspoeg, is die burgeroorlog in my kop nog altyd aan die gang. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button