Local newsNewsNews

Kleinsus maak ook haar eie matriekafskeidrok

VANDERBIJLPARK. - Haar twee ouer susters het dit gedoen en nou het Magdalena (Maggie) de Jager dit ook vermag - sy het haar eie matriekafskeidrok gemaak!

Dat ‘n matriekleerling haar eie rok maak verdien reeds ‘n handeklap, maar in dié geval verdien ma Retha de Jager ook ‘n handeklap omdat sy dit kon regkry dat al drie haar dogters hul eie uitrustings kon maak.

“Ek het reeds in gr.11 my eerste matriekafskeidrok gemaak toe ek as metgesel na ‘n matriekafskeid in Heilbron genooi was. Hierdie jaar was dit egter my eie matriekafskeid. Ek het die perfekte snit en plan vir my rok in my gedagtes gehad, asook die kleur en die materiaal. Ek het vir ‘n maand aan die swart rok met sy borduurwerk en rose in goud, gewerk,” vertel Maggie (2022 matriekleerder van HS Transvalia) met trots.

Magdalena (Maggie)
Maggie besig met die borduurwerk op haar rok.

Sy het drie dae geneem om die borduurwerk te voltooi en 15 Oktober was sy gereed vir die groot aand.
“Dit was nie maklik nie, maar enigeen kan dit doen as hul werklik wil. Dit sal jou soos ’n nuwe mens laat voel as jy dit vermag,” moedig sy ander jongmense aan.

Haar ouer suster, Marezha het ook in gr. 11 én 12 matriekafskeidrokke gemaak.

“My ma het my bygestaan en danksy haar hulp kon ek twee matriekafskeidrokke maak. Dit was baie goedkoper as om dit te laat maak. Ek dink dit was goed vir my eerste probeerslag. In die eerste rok het ek soos ‘n Spanjaardse prinses gevoel en in die tweede rok soos ‘n koningin! Ek moedig ander jongmense aan om ook hul eie rokke en klere te maak, want so ‘n prestasie kan niemand van jou af wegneem nie. Daardie vaardighede bly altyd by jou, maak nie saak hoeveel dekades verbyglip nie,” sê Marezha.

Marezha

Sy het op haar beurt in ousus Marciné, wat 13 jaar gelede in matriek was, se voetspore gevolg.
“Ons is maar geleer om alles te probeer, kreatief te dink en die meeste te maak van wat ons het. Sodoende kon ons baie spaar op ‘n duur aangeleentheid en het nuwe vaardighede aangeleer,” vertel Marciné.

Marciné

Hul moeder se eie vaardighede met naald en gare het self op jong ouderdom begin ontwikkel.

“Ek was 12 jaar oud toe my ma vir ‘n lang tyd hospitaal toe moes gaan. Met ‘n nege maande oue sussie moes ek gou nuwe take en vaardighede baasraak”. Dit het ook deel van haar lewe geword om self klere reg te maak. Sy het dit egter so geniet dat haar sussie sommer gou haar ‘mannekyn’ geword het.

“My prentjies van mooi droomrokke op papier het in rokke verander. As hoërskoolleerder het ek vir my maats rokke gemaak. Ons het nie altyd materiaal gehad nie, maar toe die koshuismoeder hoor en sien wat ons doen, het sy die koshuis se masjien aangebied saam met al die lappe wat opgegaar was deur die jare. My koshuislewe was groot pret,” vertel Retha.

Dit was dus natuurlik vir haar om ook haar dogters naaldwerk te leer doen het – sommer van baie kleins af. “Toe my kinders elk drie jaar oud was, het ek hulle elkeen die breë spektrum geleer van knope, ritssluiters, nate vaswerk, heelmaak met kruissteek, brei en hekel,” vertel Retha.

Trotse ma Retha de Jager.

Haar drie dogters, met ‘n ouderdomsverskil van 12 jaar tussen oudste en jongste, spog nou almal met die prestasie om hul eie matriekafskeidsrokke te kon maak. Moontlik ‘n tradisie wat hul eendag na hul eie dogters sal oordra.

“Dit was ‘n ontdekkingsreis van die begin tot die einde om te sien hoe hulle idees op die einde in prag uitrustings die lig gesien het. As ek terugkyk oor die 12 jaar waar elkeen hul eie ontwerp gedoen het, met slegs my raadgewende hulp, is ek baie trots op wat hulle vermag het,” sluit Retha af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button