‘Mickey Mouse-dief’ gesoek na inbraak by spreekkamer
Die skelm het daarin geslaag om te ontvlug voordat die sekuriteitsdiens hom kon vastrek.

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na interessante nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het. Hier is een daarvan….
VEREENIGING. – ‘n Inbreker met ‘n Mickey Mouse-tatoeëring op sy rug, het besluit om die Oujaar op 31 Desember 2019 op ‘n hoë noot af te sluit deur by dr. Marika van Lelyveld se praktyk, Vaal Triangle Aesthetics in Golfweg, Vereeniging, in te breek en stilweg te verkas.
Wat dié skelm egter nie geweet het nie, was dat al sy onderduimse bedrywighede op die sekuriteitstelsel se geslotekring-televisie vasgelê is.
Op die video kon gesien word hoe die man die spreekkamer soos ‘n slang binneseil en rustig van laai tot laai beweeg en deur die inhoud gaan. Hy kyk ‘n paar keer boontoe, vermoedelik om vas te stel of daar ‘n sekuriteitskamera is. Daarna beweeg hy na die ander kant van die vertrek, maak laaie oop, druk artikels in sy broeksakke en staan uiteindelik op om by ‘n ander deur in die spreekkamer in te gaan. Dis net hier waar hy sy fout begaan het, want daarmee is die alarm geaktiveer. ‘n Mens sien dan hoe hy vir oulaas ‘n paar artikels en sakke gryp en vinnig spore maak.
Dit is onbekend of die inbreker net op soek was na waardevolle artikels en geld, of dalk ‘n dwelmafhanklike was wat gehoop het om medikasie of hoëskedule middels in spreekkamer in die hande te kry.
Die Mickey Mouse-dief, soos hy daarna op Facebook bekend gestaan het, het daarin geslaag om te ontvlug voordat die sekuriteitsdiens hom kon vastrek. Dr. Van Lelyveld en die polisie het gehoop dat hulle deur middel van die video kontak sou kon maak met iemand wat die skuldige – of die muis op sy rug – herken. Dit is egter onbekend of die glibberige kalant toe ooit vasgetrek is.


