So gaan dit nou met pa en seun na kettingbotsing op Barrage-pad
Enrico is tuis, maar traumaberading en nog operasies lê voor

VANDERBIJLPARK. – Mnr. Enrico Pretorius, wat op Saterdag, 24 September saam met sy gesin in ‘n grusame kettingbotsing op die Barragepad betrokke was, sterk nou tuis aan. Hoewel hy en sy gesin weet dat die pad na herstel lank en moeilik gaan wees, pak hulle die reis dag-vir-dag en in sterk geloof aan.
Volgens sy vrou, Mariette, was dit ‘n hoendervleis-oomblik toe Enrico sowat ‘n maand na die ongeluk uit die Netcare Alberton-hospitaal ontslaan kon word.
“Die verpleegsters het Christelike liedere gesing en hande geklap terwyl hulle hom uit die waakeenheid begelei het. Hulle het net aanhou sê watter wonderwerk dit is dat hy leef,” sê sy.
Enrico is die aand van die ongeluk in ‘n kritieke toestand in die trauma-afdeling van die Netcare Alberton-hospitaal opgeneem, waar hy in ‘n geïnduseerde koma op ‘n ventilator geplaas is. Sy regterarm was tot op die been oopgekloof en daar is gevrees dat dit geamputeer sou moes word. ‘n Paar van sy ribbes was gebreek en hy het bloeding op die brein gehad. Al die bene aan die regterkant van sy gesig was vergruis. Hy het ook veelvuldige frakture in sy regterskouer opgedoen en daar was diep wonde aan sy regterbeen en knie. Hoewel Enrico niks van die ongeluk kan onthou nie, het hy tydens sy hospitalisasie gereeld angsaanvalle gekry en 14kg verloor.
“Hy het nog geen foto’s van die ongeluk gesien nie. Ons hou dit maar so. Dis nie nodig om daardie dag te moet onthou nie. Hy moet nou net gesond word,” sê Mariette.
Danksy intensiewe spesialisbehandeling kon sy arm gered word en hy ontvang nou twee keer per week Lyno-fisio omdat al die spiere in sy liggaam erg verswak het. Hy het ook reeds met traumaberading begin en sy angsaanvalle is al heelwat minder. Hoewel sy knie steeds dreineer en baie geswel is, stap hy en Mariette al elke dag sowat 2km. Die regterkant van sy kaak is intussen met plate en skroewe geheg, en op 16 November kry hy ‘n opvolgoperasie aan sy regteroor.
Die egpaar se 12-jarige seun, Alyzzander, wat harsingskudding en diep snywonde aan sy kop opgedoen het, se beserings genees mooi, maar hy het nog heelwat las van ‘n seer rug. Hy ontvang tans fisioterapie en sal moontlik opvolgbehandeling vir sy rug benodig.
“My huishouding gaan nog vir ‘n wyle besig bly met alles en almal se uitdagings, maar die Here dra my al van dag een af, so ek weet ons sal dit kan deursien tot die einde toe. Die mediese rekeninge begin ook nou inkom, maar ons gaan nie dat dit ons onder kry nie. Ek glo vas dat God nie dinge met ons laat gebeur wat ons nie sal kan hanteer nie, en ongeag hoe magteloos ons voel, dat Hy altyd ‘n uitweg sal gee,” sê Mariette.
Oorspronklike berig en foto’s hier onder: (Vaalweekblad – 19 Oktober 2022)
VANDERBIJLPARK. – “Die feit dat ons gesin lewend uit hierdie ongeluk gekom het, wys vir my dat die Here nog ‘n plan en doel met ons het.”
Só sê mev. Mariëtte Zowitsky-Pretorius (41), wat op Saterdag, 24 September saam met haar gesin in ‘n grusame kettingbotsing op die Barragepad betrokke was.
Haar man Enrico (44) en seun Alyzzander (12) is ernstig beseer. Een insittende van ‘n ander voertuig het op slag gesterf en nog twee het later in die hospitaal beswyk.
Die Pretorius-gesin was die middag omstreeks 16:30 op die nuut-opgeknapte deel van die Barragepad in die rigting van Potchefstroom op pad om hul dogter na ‘n maat se verjaardagbraai te neem.
“Ek het die blou Renault asook die groen karretjie sien aankom maar niks daarvan gedink nie, totdat een van die bestuurders skielik uitgeswaai het in ons baan in en ons tromp-op getref het. Ons kar het die randsteen getref, terug in die pad gegaan en getol. Ons het ‘n aankomende bakkie met werkers wat agterop gesit het, op sy kant getref. Altesaam vier voertuie was in die botsing betrokke.
“Bloed het oor my seun se gesig gestroom en my man het skuins na my kant toe gelê. Ek het dadelik uit die motor geklim en eers gebid en gevra dat die Here my rustig sal maak sodat ek oopkop kon bly. Ek het Alyzzander uit die kar gehaal en hom eenkant laat sit want ek wou nie hê hy moes sy pa so sien nie,” sê Mariëtte. Sy en haar dogter, Lynic (17), het verskeie stamp en skraapwonde opgedoen maar is gelukkig nie ernstig beseer nie.
“Ons was omtrent onmiddellik deur vele ‘engele’ bygestaan. Stephanopark se GPF het ‘n ambulans ontbied en helpers het dadelik handdoeke aangedra en dit om Enrico se erg beseerde arm en Alyzzander se kop gedraai. Enrico was in daardie stadium nog in die wrak vasgekeer, waar paramedici hom begin behandel het. Dit was duidelik dat hy baie erg beseer was. Ek moes met ‘n swaar hart die toneel verlaat om per ambulans saam met my seun Cormed-hospitaal toe te gaan. Hy het harsingskudding opgedoen en baie diep snywonde aan sy kop gehad.
“Nadat my man uit die wrak bevry is, is hy in ‘n kritieke toestand na die trauma-afdeling van die Netcare Alberton-hospitaal gevlieg, waar hy in ‘n geïnduseerde koma op ‘n ventilator geplaas is. Sy regterarm was tot op die been oopgekloof en daar is gevrees dat dit geamputeer sou moes word. Al die vel aan sy bo-arm was afgeruk. ‘n Paar van sy ribbes is gebreek en hy het bloeding op die brein gehad. Al die bene aan die regterkant van sy gesig was vergruis. Hy het ook veelvuldige frakture in sy regterskouer opgedoen en daar was diep wonde aan sy regterbeen en knie.
“Dis nou drie weke na die gru-ongeluk en my hart loop oor van dankbaarheid oor sy herstelproses. ‘n Gesigsrekonstruksie is verlede Dinsdag gedoen en hy lyk al ongelooflik goed. Hy het selfs al paar treë gegee. Hy kan al sy arm optel en het die gebruik van sy regterhand behou. Hy het geen permanente breinskade nie en het ook sy visie in sy regteroog, wat baie erg beseer is, behou,” sê Mariëtte.
Alyzzander is uit Cormed-hospitaal ontslaan nadat hy steke in sy kopwonde gekry het en ‘n breinskandering gedoen is. Hy is weer vir ‘n paar dae se waarneming in die Midvaal-hospitaal opgeneem nadat hy erg begin braak het, maar is intussen ontslaan en terug op die skoolbanke.
“As mens die wrak van ons kar sien, kan ek weer eens net vir die Here dankie sê dat ons oukei is en dat my man leef. Dis ‘n bewys dat God in beheer was. Ons is oneindig dankbaar vir almal se gebede in dié tyd,” sê Mariëtte.








