Laerskool DF Malherbe gee ou liedjies nuwe woema!
"Dit gee mens hoop vir die toekoms van ons taal."
VANDERBIJLPARK. – Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) laat al vir jare die vlam van Afrikaans helder brand, en met ‘n onlangse produksie wat deur die Laerskool DF Malherbe op die planke gebring is, is weer bewys dat die toekoms van Afrikaanse musiek nog blink is.
Honderde leerders en hul ouers het weke lank voorberei om die spogproduksie, “DF sing Groot-konsert” aan te bied, en volgens me. Madeleine Breet is sy en die leerders baie trots op wat hulle vermag het.
“By DF Malherbe wil ons graag spog met ons taal en Afrikaanse musiek lewendig hou, veral in ’n era waar kinders skynbaar meer na Engelse musiek as na Afrikaans luister,” sê sy.
“Met hierdie produksie het ons dit deur en deur bereik. Soos mens op die stoepe loop, hoor jy hoe kinders al die ou volksliedjies, goue oues en FAK-treffers sing. Dit was werklik lekker om te hoor hoe hulle dit oor en oor sing! Selfs die gehoor en kinders by die huis sing die liedjies nou weer van vooraf. Dit steek letterlik vas. Ons is oneindig trots!”
Me. Esté Cilliers van die FAK het ook die konsert bygewoon en sê dat dit vir haar ’n riem onder die hart was om te sien dat die kinders steeds die Afrikaanse taal en kultuur lewendig hou.
“Dit was besonder mooi om te hoor hoe die kinders ou Afrikaanse juwele soos ‘Die padda wou gaan opsit’ weer helder laat skitter het,” sê sy.
“Om te sien hoe jong kinders se liefde vir ’n taal kan uitstraal op ’n verhoog is werklik iets wat mens se hart warm laat klop. Dit gee mens hoop vir die toekoms van ons taal.”

