Diewe sit met leë hande na teëspoed
Die kluis het 2 en ‘n half ton geweeg en die innoverende diewe het blykbaar met groot moeite van ‘n kabel- en katrolstelsel gebruik gemaak om dit op een van die voertuie te laai.
‘n Mens kan jou die frustrasie indink van ‘n klompie Vereenigingse diewe toe daar in Desember 1975 ‘n massiewe bedrag geld voor hul voete gelê het… maar hulle dit nie kon optel nie!
Die diewe se dilemma het vroeër die aand begin toe hulle skynbaar met ‘n trokkie of tweee en ‘n groot gesukkel, ‘n kluis uit Vaaldriehoek Vleishandelaars se kantore in Vereeniging gesteel het.
Die kluis het 2 en ‘n half ton geweeg en die innoverende diewe het blykbaar met groot moeite van ‘n kabel- en katrolstelsel gebruik gemaak om dit op een van die voertuie te laai.
Met sowat R25 000 in die kluis, wat in vandag se geldwaarde seker digby ‘n miljoen rand sou wees, was die diewe seker buite hulself van blydskap toe hulle met hul buit by die perseel wegry.
Hul vreugde was egter van korte duur want ‘n klompie meter verder waar die pad ‘n draai maak, het die kluis afgeskuif en in die pad geval.
Dit sou waarskynlik ‘n paar ure neem om dit weer op die trokkie te kry. Die diewe het skynbaar nie kans gesien vir die risiko om op heter daad betrap te word nie en het die kluis met sy waardevolle inhoud net daar in die pad laat lê.
Mnr. J.H. van der Merwe, die destydse eienaar van die onderneming, was maar te dankbaar oor die diewe se teëspoed. Hy het al sy geld teruggekry en die kluis kon weer na sy normale staanplek teruggeneem word

